Video: Spikkels bring Beeld
Plof! Uit die bed, deur die veiligheidshek, af met die trappe tot by die motorhuisdeur...
Beeld
Matriek-fotokompetisie
Kyk na die eerste matriekafskeid-foto's.
Stuur jou foto na jip@beeld.com.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
Vennote


Die vyandigheid groei vinnig
Dec 17 2007 07:26:07:303PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Willem Jordaan


Dat die ANC ’n oomblik van politieke hoogspanning beleef, is hier in Polokwane nêrens meer duidelik nie as in die openlike uitjouery en gehekel wat nou reeds meer as twee dae voortduur.

Pogings om openlike konfrontasie tussen die twee kampe te beperk deur die dra van T-hemde met afbeeldings van hul twee veghoenders, pres. Thabo Mbeki en mnr. Jacob Zuma, was ooglopend onsuksesvol.

Van die eerste oomblik van die openingskonferensie het luide dreunsang en uitjouery vanuit die Zuma-kamp dinge warm gemaak vir die Mbeki-gesinde voorsitter van die konferensie, mnr. Mosiuoa Lekota.

Met sy eerste verskyning op die verhoog het die skare losgetrek met “Awuleth’ umshini wam”, die einste Zuma-strydlied waaroor Lekota weke vantevore sy mond oor uitgespoel het.

Sy standpunt was mos dat diegene wat die lied sing, nie aldag hul varkies op hok het nie.

Toe kom die vraag ter sprake hoe die tellery moet geskied. Waar die huidige leierskorps ten gunste was van ’n elektroniese telproses, het die Zuma-kamp dié metode nie vertrou nie en aangedring dat die stemme met die hand getel word. In die debat wat hieroor losgebars het, het Lekota die knie gebuig voor ’n golf van protes en uitjouery.

In die hele gang van dié protes was die Mbeki-kamp stil – sommiges het bloot hul afkeer in hul partygenote se optrede kopskuddend laat blyk.

Die nederlaag wat Lekota so vroeg in die geveg gely het, het die Zuma-kamp besmoontlik met ’n baie sterk sielkundige voordeel besorg. Soos een Mbeki-ondersteuner sy frustrasie laat blyk het toe hy van die vloer af van Lekota wou weet: “As ons ewe veel lawaai maak, sal jy jou ook laat intimideer?”

Om sout in die wonde te vryf, het die reeds verswakte beeld van die Mbeki-kamp verdere skade gekry met die berekende optrede van mnr. Kgalema Motlanthe, die ANC se sekretaris-generaal.

Motlanthe, wat beskou word as ’n Zuma-ondersteuner en moontlike aanspraakmaker op die presidentskap as Zuma dit in ’n hof hotagter kry, het telkens ingegryp as Lekota misluk het om beheer oor die skare te hou. Wanneer Motlanthe aan die woord gekom het en Lekota druipstert van die mikrofoon moes afstand doen, was die skare telkens dadelik stil.

Die boodskap van die vloer af was duidelik: Ons erken nie meer Mbeki en Kie. as die legitieme leiers van die party nie. En as Mbeki se manne ’n spreekbeurt kry, is dit slegs omdat die Zuma-kamp hul toelaat.

Intussen het Zuma, daar waar hy neffens Mbeki op die verhoog gesit het, gesukkel om sy selfvoldaanheid te verbloem.

Toe Mbeki self aan die woord kom, het sy ondersteuners plek-plek hul ondersteuning met ’n hoflike handeklappie laat blyk, oënskynlik uiters versigtig om nie hul president se afgemete ritme te versteur nie. Die treffer “Thabo Mbeki” wat nog in die 2004-verkiesing gesing is, is bykans nooit gehoor nie.

In starre kontras was weer die luide “Umshini wam” wat dadelik ná Mbeki se toespraak enige poging tot applous verswelg het. Toe afgevaardigdes die saal verlaat, was dit ook opmerklik hoe die onderlinge gesprek gegaan het oor die optrede van die Zuma-kamp en die relatiewe kil ontvangs wat Mbeki gekry het, eerder as die inhoud van sy toespraak.

Die debat wat dadelik losgebars het, het ook nie oor die inhoud van die toespraak gegaan nie, maar eerder oor hoe die luide steun vir Zuma interpreteer moes word.

“Dis klaarpraat met Mbeki,” het Zuma-ondersteuners gesê.

In die Mbeki-kamp is weer teorieë versprei dat dit die nie-stemmende afgevaardigdes is wat vir die lawaai verantwoordelik was en dat Mbeki eintlik “die stille meerderheid” agter hom het.

Deurgaans was dit duidelik dat die hoë spanning en wedywering tussen die twee kampe relatief beheers was.

’n Kwessie wat wel in ANC-geledere geopper is, is dat dié situasie blitsvinnig kan verander as die Mbeki-kamp net so uitdagend as die Zuma-kamp sou begin optree.

In die heersende spanning is dit genoem as moontlike vonk in die kruitvat.

Midde-in die broeiende spanning is die toekoms en rigting van die ANC intussen ’n onseker saak, maar wat wel soos ’n paal bo water staan, is dat eenheid ná afloop van die konferensie ’n hoogs ontwykende doelwit sal wees.

Die onderlinge vyandigheid het stewig wortel geskiet en groei nou vinnig.

Afgevaardigdes sal eweneens moet besef dat die wyse waarop hulle hul verskille hier in Polokwane aanpak, wyer reperkussies vir die party gaan hê. Dit is immers duidelik dat wie ook al die leierstryd wen, daar ernstige gesprekke voorlê oor ANC-beleid en die rigting wat die regering moet inslaan.

Die wyse waarop die Zuma-kamp tans met hul teenstanders omgaan, voorspel niks goeds nie.

  • Willem Jordaan is Beeld se susterkoerant Die Burger se politieke redakteur.


    Teken in op Beeld

    Kry Beeld op jou Facebook-profiel

    Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

  • vind
    Plaas jou GRATIS advertensie hier!
    SOEK | KOOP | VERKOOP
    vind jou ou skoolvriende

    Kies jou skool se provinsie



    en klik op die eerste letter van jou skool
    A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


    Adverteer in Beeld | Kontak ons |