Melville mak gemaak
Mense van Melville veg terug om dié Jhb-buurt saans weer leefbaar te maak sy inwoners.
Beeld
Olimpiese Spele in Beijing
Die SA span, nuus, agtergrond en ander inligting oor vanjaar se Olimpiese Spele in Beijing, China.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
Vennote


Gehoor se reaksie wys hoe die twee vegters vaar
Dec 18 2007 08:41:41:300PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Hande in die lug vir jou man. Afgevaardigdes wys waar hul steun lê tydens die benoemingsproses vir die ses top-beamptes van die ANC se nasionale uitvoerende komitee. Foto: Felix Dlangamandla
Deon Lamprecht en Liezel de Lange


“Die pad na Polokwane.”

Dít is die refrein wat ’n mens die laaste maande tot vervelens gehoor het uit die monde van kristalbal­kykers wat hulle probeer slim hou het oor die boksgeveg tussen pres. Thabo Mbeki en mnr. Jacob Zuma.

’n Geveg waarvan die uitklophou na verwagting gisteraand geplant sou word by die Universiteit van Limpopo, so 30 km van Polokwane.

Wel, hier is ons nou in Polokwane, en die veelbesproke pad – en alles wat daarmee gepaard gaan – is agter ons. Maar hoe lyk die pad eintlik?

Daar is die natuurskoon van hierdie deel van die Limpopo-provinsie, asook die huisies en bokke en beeste van die arm plattelandse bewoners aan die soom van die pad.

Maar wat ’n mens die meeste opval op dié pad, is ’n rotskoppie wat die eindbestemming aandui. Dis van sandsteen en selfs tussen al die ander koppies in die omgewing staan dit uit. Dis kaal en gerond.

En dit lyk kompleet soos Zuma se kop. (Slegs ’n klein verbeelding-sprong is hier nodig).

Bloot toevallig, of moet ’n mens ’n dieper simboliese betekenis hierin lees? Besluit maar self.

Die kaalkoprots staan net binne die hek van die universiteitskampus waar die ANC-leierstryd hom sedert Saterdag afgespeel het.

Dit troon bo-oor die groot wit konferensietent waar die twee ANC-swaargewigte geboks het – Zuma met kragtige swaaihoue, Mbeki met flou steekhoutjies.

Selfs vir die optimis het dit gelyk of Mbeki op sy voete uit was nog voordat die klok vir die laaste ronde in Polokwane gelui het.

Wat ’n mens weer aan daai koppie laat dink. Die kaalkoprots, soos die ander sandsteenformasies in die omgewing, is oor die millennia deur gletsers weggekalwe totdat dit sy huidige vorm gekry het. Net soos Mbeki se steun op die pad na Polokwane weggekalwe is nog voordat hy hier deur die toue kom klim het.

Soos met enige boksgeveg kon ’n mens sedert die opening van die ANC se nasionale konferensie die vertoning van die twee vegters meet aan die reaksie van die gehoor.

Mbeki was eerste uit sy hoek met sy handskoene verdedigend omhoog.

Maar sy voetwerk was allesbehalwe flink en sy poging vir ’n vroeë tegniese uitklophou is deur die Zuma-ondersteuners afgeweer met die baldadige gedreun van “Awuleth’ umshini wami”, hul kampioen se oorlogslied. Mbeki is aan die einde van die eerste dag se politieke drama moeg, verneder en lyfseer terug na sy hoek – sy ondersteuners grafstil.

Eergister al het dit gelyk of die Mbeki-kamp handdoek wou ingooi. “Die ANC is gekaap,” was die mismoedige boodskap van ’n Mbeki-vertroueling aan ’n Beeld-kollega.

Skielik was Zuma se binnekring – wat aanvanklik uit die openbare oog gebly het – stert in die lug. Mo Shaik, broer van die veroordeelde Schabir Shaik – ja, hy wat ’n “algemeen korrupte verhouding” met Zuma gehad het (nie die regter se woorde nie!) – is gesien waar hy by ’n straatverkoper se konkavuur aan braaivleis gesmul het. Hy het vir joernaliste gewaai en sy duim in die lug gehou.

Mo Shaik se vrolike bakkies is dalk die rede hoekom mnr. Trevor Manuel – altyd so koelkop – tydens gister se stemmery sy humeur verloor en twee Beeld-fotograwe met ’n sambreel getakel het. Mo het immers verkondig Trevor gaan sy werk as minister van finansies verloor as Zuma die leiersverkiesing wen.

Hier in die mediasentrum, waar die gerugte volop was en die feite min, is gepraat van ’n nuwe Mbeki-terugvegpoging. Mbeki self het kalm gelyk toe hy en Zuma eergisteraand laat amptelik vir die leierskap van die ANC benoem is, en toe hy gister sy eie kruisie gaan trek het.

Teen druktyd, kort voordat die wenner aangekondig sou word, was daar ’n gedwonge optimisme in die Mbeki-hoek.

Alle aanduidings was egter dat die president op pad planke toe was.


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |