Stem, dalk kom gunsteling op CD
Kies self watter Suid-Afrikaanse kunstenaars se musiek jy graag saam op 'n CD wil hê.
Beeld
Olimpiese Spele in Beijing
Die SA span, nuus, agtergrond en ander inligting oor vanjaar se Olimpiese Spele in Beijing, China.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
Vennote


Onstuimige gedrag van ANC-lede pla partyswaargewigte
Dec 19 2007 12:19:41:463AM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Pieter du Toit


Polokwane (Pietersburg). – Mnr. Mosiuoa Lekota, die ANC se nasionale voorsitter, het gister hier vir die soveelste keer onder die groeiende selfvoldaanheid van ondersteuners van mnr. Jacob Zuma deurgeloop toe hy wéér uitgejou is.

Hy was gisteroggend vroeg op pad om te gaan stem toe ’n opruierige groepie van 15 Zuma-ondersteuners hom begin toesing het om sy pos te verlaat en iemand anders ’n kans te gee. Die mans, sommige in SAKP-kleredrag, was die hele oggend besig om pro-Zuma liedjies te sing en om omstanders na Zuma te bekeer.

Lekota het die singery aanvanklik geïgnoreer, maar het kwaai gereageer toe van die singendes om hom begin dans en die liedjie in sy gesig begin sing het.

Hy het hulle vermaan om hulle soos “gedissiplineerde lede van die beweging” te gedra voordat hy verder geloop en die groepie aangehou sing en dans het.

Prof. Kader Asmal, senior lid van die nasionale uitvoerende komitee (NUK), het met verwysing na sulke optrede gesê hy is bekommerd oor die stand van sake in die ANC en dat die gedrag van sommiges vreemd tot die partykultuur is.

“Ek keur van die gedrag beslis nie goed nie. Dit is beslis baie anders as enigiets wat ek in my 40 jaar plus in die party beleef het.”

Hy het gesê gebeure die afgelope paar dae het die noodsaak vir ’n stel reëls om die veg en hou van verkiesings te reguleer, bevestig. “Nie net op nasionale vlak nie, maar ook plaaslik. Die meeste klagtes wat die tugkomitee ontvang, handel oor dít wat op grondvlak gebeur. Ons het die skuif van ’n bevrydingsorganisasie na ’n politieke party gemaak sonder riglyne om ons te help.”

Hoewel die party streng gesproke nie meer ’n bevrydingsorganisasie is nie, hang hy nog die idee daaragter aan. “Maar ons moet aanpas en aanbeweeg. Dit vereis dat ons meer professioneel en gedissiplineerd is en geleenthede soos hierdie beter reël. Ons optrede die afgelope ruk was soos dié van ’n uitgerafelde party.”

Hy het herhaal die huidige onstuimigheid wentel eerder om persoonlikheid as beleid en hom aangesluit by mnr. Tokyo Sexwale, ANC-swaargewig wat sy nominasie vir nasionale voorsitter eergister teruggetrek het, wat dieselfde in ’n TV-onderhoud gesê het.

“Die party is verenig rondom sy beleidsrigting,” het Sexwale aan die SAUK gesê. “Dit is vas en ononderhandelbaar. Die beleid sal rigting gee.”

Mnr. Mbhazima Shilowa, Gautengse premier en Mbeki-ondersteuner, het buite die stempunt gesê hy sien uit na die uitslag van die verkiesing en glo hy nie dit sal tot dieper verdeeldheid lei nie.


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |