Melville mak gemaak
Mense van Melville veg terug om dié Jhb-buurt saans weer leefbaar te maak sy inwoners.
Beeld
Olimpiese Spele in Beijing
Die SA span, nuus, agtergrond en ander inligting oor vanjaar se Olimpiese Spele in Beijing, China.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
Vennote


Zuma vat ANC oor
Dec 18 2007 09:18:58:003PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend

Jan-Jan Joubert en Liezel de Lange

Polokwane. – Die Jacob Zuma-era het begin.

Hy het pres. Thabo Mbeki met 2 329 stemme teen 1 505 verslaan, en dus byna 60% van die stemme getrek.

Mbeki het op die verhoog geklim, Zuma omhels en aan hom ’n handdruk gegee terwyl oorstelpte afgevaardigdes “ANC, ANC!” geskree het.

Al die Zuma-gesinde kandidate is met bykans dieselfde meerderheid verkies: Mnr. Kgalema Motlanthe as onderleier, me. Baleka Mbete as nasionale voorsitter, mnr. Gwede Mantashe as sekretaris-generaal, me. Thandi Modise as adjunk-sekretaris-generaal en mnr. Mathews Phosa as tesourier.

Die bitterlik verdeelde party het ’n aanskyn van eenheid voorgehou met die verloorders wat telkens saam met die wenners op die verhoog verskyn voor hulle die toneel verlaat het.

Die volgende slag sal gelewer word wanneer die regerende party se nasionale uitvoerende komitee aangewys word, met die vraag of Zuma-gesindes weer skoonskip sal maak, en of in belang van eenheid uitgereik sal word om vir Mbeki-gesindes ook plek te maak.

Luide weergawes van Zuma se veldtog-lied “Awuleth’ umshini wami” het herhaaldelik deur die groot tent waarin die konferensie op die kampus van die Universiteit van Limpopo weerklink, en opgebou tot ’n crescendo van vreugde vir sy ondersteuners.

Maar vir pres. Thabo Mbeki en sy ondersteuners was dit die ergste uitslag denkbaar, ’n verskriklike einde aan ’n politieke loopbaan wat eens soveel beloof het.

Die oorwinning plaas Zuma in die sterkste posisie denkbaar om die land se volgende staatshoof te word - met die swaard van vervolging wat oor sy kop huiwer.

Nog voordat die ANC se interne verkiesingskommissie gisteraand die laaste stemme in die regerende party se leierskapverkiesing kon tel, het mnr. Jacob Zuma se ondersteuners alreeds bevestig hy sal aanbly as ANC-leier al word hy opnuut in die hof van korrupsie aangekla.

Die ander groot boodskap uit die Zuma-kamp was dat geen groot beleidsveranderings beplan word nie. Daar sal geen swaai na links wees in ekonomiese beleid onder Zuma nie, is die herhaalde en benadrukte versekering.

Die Zuma-kamp se kandidaat vir onderleier, mnr. Kgalema Motlanthe, is gistermiddag op ‘n mediakonferensie gevra hoe die ANC se ideale van skoon regering en moreel uitmuntende partylede uitgeleef kan word as Zuma – die waarskynlike partyleier – in die hof tereg staan.

Daar is veral aandagtig na Motlanthe geluister omdat hy die leiersmantel by Zuma sal moet oorneem as albei verkies word en Zuma om een of ander rede moet uittree.

“ANC-lede moet te alle tye reg optree. Hulle moet die ANC se beeld uitbou, waar hulle ookal is.

“Die kwessie dat kameraad Jacob Zuma straks nuwe aanklagte in die hof sal moet beantwoord is baie moeilik vir die ANC om te hanteer. Selfs indien hy aangekla word, bly dit maar ongetoetste bewerings waaroor die hof moet uitspraak lewer.

“Tans is die bewerings teen hom bepaald nie onomstoorlik nie. Hy was mos al in die hof. Nou byt die vervolgingsgesag hom ‘n tweede keer.

“As hy aangekla word, is hy steeds ons lede se keuse. Ons kan nie ons lede se keuse ongedaan maak nie. As hy as leier verkies word, is die aanklagte een van die dinge wat ons lede no al in hul keuse moet verreken en daarmee saamleef.

“Die probleem met hierdie tipe ding is dat enigeen te eniger tyd bewerings kan maak teen enigiemand anders.

“Wat regtig frustrerend is, is die vreemdste aspek van hierdie Zuma-saak: dat ons die heeltyd vertel word hy gaan aangekla word. Dis mos nie hoe dit werk nie. Kla hom aan, maar dis onregverdig om heeltyd te se hy gaan aangekla word.

“Soos dit nou gaan, met die vervolgingsgesag wat wil aankla, en Zuma wat volhou sy regte word geskend, beteken dit die pyn hou net aan en aan en aan.”

Motlanthe het ook herhaaldelik vrese probeer besweer dat Zuma se moontlike verkiesing weens populistiese druk ‘n skielike linkse swaai in regeringsbeleid sal bring.

Hy het beklemtoon dat die ANC beleid elke vyf jaar op beleidskonferensies deurtrap en die laaste so ‘n konferensie is middel vanjaar in Midrand gehou. “Ons werk in vyf jaar siklusse, dit is dus nie moontlik om skielik radikale beleidsveranderinge in te bring nie.”

Op ‘n vraag oor of Zuma nie beleidstoegewings sal moet doen aan Cosatu en die SAKP, sy onwrikbare linkse ondersteuners nie, het Motlanthe gese daar is geen sprake van nie. “Daar is bloot geen ruimte vir iets soos terugbetaling nie.”

In ‘n duidelike poging om die sakewereld te paai, het Motlanthe ook spesifiek na ekonomiese beleid verwys. “Daar kan klemverskille wees met implementering, maar daar is basiese beleid wat beslis nie sal verander nie.”


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |