Stem, dalk kom gunsteling op CD
Kies self watter Suid-Afrikaanse kunstenaars se musiek jy graag saam op 'n CD wil hê.
Beeld
Olimpiese Spele in Beijing
Die SA span, nuus, agtergrond en ander inligting oor vanjaar se Olimpiese Spele in Beijing, China.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
Vennote


Zumafikasie
Dec 19 2007 06:58:18:107PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Mbeki en mnr. Jacob Zuma pas nadat Zuma as nuwe ANC-leier aangewys is. Foto: AP
Jan-Jan Joubert


Mnr. Jacob Zuma se oorwinning in die ANC-leierstryd laat rooi ligte flikker, maar dit kan nooit beteken dat jy die fenomenaal belangrike goeie aspekte daarvan miskyk nie.

Daar is soet en daar is suur.

Kom ons begin by die suur: Die kommer oor ’n Zuma-leierskap.

Die belangrikste beswaar teen Zuma is sekerlik dat hy op geen manier gesien kan word as voorbeeld deur hoe hy sy lewe leef nie.

Sy onvermoë om met geld te werk, sy gebrekkige formele opleiding, sy vriendskap en klaarblyklike afhanklikheid van bedenklike figure en sy gedrag tydens sy verkragtingsverhoor is kommerwekkend.

Daar is sy ondersteuners se populistiese gedrag wat hy oogluikend toelaat en die vrees dat hy die land se ekonomiese beleid na links gaan swaai, gegewe die rol wat die SAKP, Cosatu en die jeugliga in sy verkiesing gespeel het.

Basies is die kommer dat hy sal toegee aan die eis om welsynstoelaes aan armes verder uit te brei, veral gegewe die huidige begrotingsoorskot. Dit sou ’n gevaarlike besluit wees binne die siening dat die huidige vet jare in ’n mate konjunktuurgebonde is (dat dit met ons goed gaan omdat dit tans met die wêreldekonomie goed gaan) en dat die maer jare kan volg.

As jy eenmaal ’n toelae ingestel het, kan jy dit nie regtig wegvat nie. Dit word ’n vaste uitgawe. As die maer jare kom, gaan dié uitgawe nie weg nie. Dan raak dit moeilik om binne jou begroting te bly en die glibberige afdraand na ’n skuldmoeras wink.

Dis “leef nou, betaal later”, in min. Trevor Manuel se woorde.

En dis onaanvaarbaar.

In gesprekke met vooraanstaande Zuma-ondersteuners die laaste weke was hulle bykans manies in hul pogings om ’n mens te laat skryf hulle gaan beslis nie peuter met die ekonomiese beleid nie.

Daar is natuurlik ’n mening dat Zuma-hulle net dié dinge sê om kritici te sus, en dis ’n moontlikheid.

Dit voel dikwels asof armageddon al soveel keer vir ons land voorspel is dat mense ook maar soms die goeie moet glo – minstens totdat jy verkeerd bewys word. Wat kan hulle tans meer doen as om te sê hulle gaan nie beleid verander nie? Sou mense die teenoorgestelde verkies?

Dink aan die koue pampoen wat al opgedis is om mense bang te praat: chaos die dag as Mandela vrygelaat word, chaos as die ANC oorneem, chaos as Manuel oorneem, chaos as Mandela nie meer regeer nie, ensovoorts, bla-bla-bla. Altyd op uitsteken-de hoorsê-gesag.

En deesdae: chaos die dag as Mandela sterwe, chaos die dag as Zuma oorneem. Die nag van die lang messe! Skrik, suiderlanders! Ai tog.

Eerder kan mense, terwyl hulle die bedenkinge oor Zuma as persoon in gedagte hou, kyk na die wonderlike van die gebeure tans hier in die noorde van die land.

Die belangrikste is dat die konferensie getoon het interne demokrasie in die ANC werk. Ja, dit was morsig. Ja, dit was stadig.

Maar almal het grootliks by die reëls gehou en die stemmery was bo verdenking.

Op die duur het dit gewys hierdie skynheilige onsin van ’n ewig verenigde ANC is louter snert. En dat dit moontlik is vir ’n ANC-leier om ontsetel te word. Die belangrikheid hiervan kan nouliks oorspeel word.

Want ons is ’n eenparty-dominante staat. Die grootste gevaar van so ’n staat is perpetuering van bewind – dat ’n sikofantiese kliek om die leiersfiguur vorm en slegs die aanskyn van demokrasie handhaaf.

Vandeesweek se gebeure is realisties gesproke die naaste wat ons land kan kom aan bewindsverandering in die huidige politieke klimaat.

As pres. Thabo Mbeki gewen het, sou hy en sy vertrouelinge die volgende staatshoof kon aanwys sonder ’n breë mandaat. Dankie tog dit het nie gebeur nie.

Voorts sou ek die siening verdedig dat die regering onder die ANC ontwikkel het in ’n laevlak-kleptokrasie waar selfverryking en die toeken van gunste, gawes en posisies aan vriende en vertrouelinge van die elite endemies en epidemies geword het.

Gegewe dat ons ’n staat is waar een party oorheersend is, is daar ’n kans dat die nuwe besems die kleptokratiese neigings van die pas verslane leierskap (vir sover dit bestaan het) kan korrigeer, staak en aan die kaak stel. ’n Skoon administrasie is sekerlik te veel om voor te hoop, maar die sneeubal-effek word minstens teengewerk as die besluitnemers verander.

En terwyl sommige van die huidige kleptokraat-elite gaan sukkel, sal ander se voetwerk en span van die mantel na die nuwe bewind minstens vermaaklik wees om dop te hou!

Zuma se span van vyf topleiers het drie groot verbeterings op die ou span, een oor wie ’n mens louwarm is en een vreeslike swak aanstelling.

Die swak plek is me. Baleka Mbete, wie se Speakerskap van die Nasionale Vergadering glad nie op peil is nie.

Mnr. Kgalema Motlanthe is die louwarm een – hy lyk ’n bietjie asof hy homself posisioneer om die leer verder te klim.

Maar die drie goeies is uitstekend: mnr. Gwede Mantashe is ’n indrukwekkende verdediger van die Grondwet, dr. Mathews Phosa se sukses maak jou bly en me. Thandi Modise se onkreukbare rekord oor vroueregte is inspirerend.

Dan weer is daar die Mo Shaiks, die Ranjeni Munusamys, die Fikile Mbalulas, ensovoorts. Hopelik sal hul rol nie te groot wees nie.

Maar só is die aard van verandering: Dis onseker. Stabiliteit is lekker, maar só kan jy ook versand. Enige nuwe omstandighede bring dinge om oor waaksaam te wees, en opwindende nuwe geleenthede.

Dís die soet en die suur van verandering, en die soet en suur van Zuma se verkiesing.


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |