Hoeveel het jý gewen?
Kliek hier vir die jongste én vorige Lotto-wennommers en uitbetalings.
Beeld
Olimpiese Spele in Beijing
Die SA span, nuus, agtergrond en ander inligting oor vanjaar se Olimpiese Spele in Beijing, China.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
Vennote


Om op Zuma se kop te klim
Dec 20 2007 06:00:52:613PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Is dit die toekoms van die land waarna mnr. Jacob Zuma met so 'n ver-af blik in die oë op die ANC-konferensie staar? Foto: Felix Dlangamandla
Deon Lamprecht


Ek staan op Zuma se kop.

Of liewer, op die kaalkoprots wat van ver af lyk nes die kop van mnr. Jacob Zuma, die nuwe ANC-leier.

Dit troon bo-oor die politieke slagveld waar die ANC se leierstryd vandeesweek tot sy bloedige einde gekom het.

Nes ’n slegte voorteken vir pres. Thabo Mbeki.

Dit was nie maklik om op Zuma se kop te kom nie.

Soos Mbeki die afgelope maande gedoen het, ek eers al om die kop geloop om na die maklike pad te soek.

Daar is nie een nie. Die kop is omring deur digte doringbosse wat op die oog af ondeurdringbaar lyk.

Dan maar die moeilike pad: ’n aanslag reg van voor, teen die gladde, geronde rots op tot bo.

Halfpad jaag my asem en ek rus ‘n bietjie. Maar, anders as Mbeki, kry ek ’n tweede wind en stoot weer aan tot bo.

Ek kyk eers af na die rots onder my voete. Die oppervlak is vol skuurmerke en kraters soos die kop deur die onstuitbare beweging van oergletsers uit die sandsteen gebeitel is.

Op die hoogste deel is ’n kroon van so ses groot kokerbome, onsigbaar van onder af. Een elk vir die nuwe ses topleiers van die ANC?

En voor die groep van ses bome lê ’n enkele, omgevalle kokerboom. So ’n korterige een – nes die verslane leier van die ANC.

Kollega Elise Tempelhoff, wat eens Beeld se kantoor in Pietersburg/Polokwane beman het, vertel daar is rots­tekeninge op die kop. Heel gepas vir ’n gewaande tradisionalis soos Zuma. Ek klouter rond, maar kry niks.

Die kop se naam was eers Mountain View. Soos baie ander plekke en goed in Suid-Afrika is dit egter hernoem. Dit heet nou Sovenga – ’n eieskepping wat die nasionaliteite weerspieël van al die mense wat in die omgewing bly: Shona, Venda en Shangaan. ’n Alliansie-naam, kan jy maar sê.

As jy op Zuma se kop staan, kan jy ver sien.

Ek kyk eers terug oor die pad wat die “100% Zulu Boy” die afgelope jare geloop het tot hier by die ANC se 52ste Nasionale Boksgeveg op die kampus van die Universiteit van Limpopo.

Doer ver – suid, suid-oos – lê KwaZulu-Natal, waar Zuma as provinsiale ANC-voorsitter op ’n siniese, genadelose wyse gehelp het om die IVP se mag te breek.

Om dit reg te kry, het Zuma, ’n boorling van Nkandla in die hartland van die Zoeloe-monargie, ook sy status as 100% Zulu Boy gebruik.

In die luiperdvel-drag van ’n indoena, met sjarme en omkoopgeld uit die staatskas en beloftes van beskerming, het hy ’n wig tussen koning Goodwill Zwelethini en die IVP-leier dr. Mangosuthu Buthelezi gedryf.

Dis ’n taktiek wat uiteindelik sou slaag, maar nie voordat dit die vlamme van geweld in die provinsie aangeblaas het nie.

Spring ’n klompie jare en honderde kilometers vorentoe – tot by die reuse-konferensietent aan die voet van die kaalkoprots, waar Mbeki en sy generaals vandeesweek op die politieke slagveld bly lê het.

’n Afrikaner-patriarg het vandeesweek hier na Mbeki verwys as ’n Engelse lord. Aanvaar jy dié vergelyking, dan was die kaalkoprots hier op die Limpopo-kampus sekerlik Mbeki se Isandlwana. En Zuma die seëvierende Zoeloe-koning Cetshwayo.

Terug na die hede – en die toekoms. Dis die laaste dag van die ANC-konferensie, ’n goeie dag om vorentoe te kyk.

Waar ek op Zuma se kop staan, draai ek my rug op die tent en tuur vorentoe. Wat hou Zuma-dom in vir die toekoms van ons land?

Die landskap verklap niks. Al wat ek sien, is die lang, lui kurwe van die R71 wat van Polokwane af hier verby die kop loop na Tzaneen.

Langs daardie pad lê die heilige berg van die reënkoningin Modjadji (was die milde reën hier tydens die konferensie die reëngode se seën vir Zuma?).

En êrens buite my sig loop daar ook die N1-hoofweg noordwaarts tot in Zimbabwe.

Die doemprofete sê Zimbabwe is waarheen Zuma ons land sal neem.

Baie ontleders is egter positief: Zuma is demokraties verkies. Mbeki se veldtog om vir ’n derde termyn aan te bly, was ’n gevaar vir die demokrasie en moes gestuit word. Zuma sal nie alleen regeer nie en ’n groot skuif na links sal dus onwaarskynlik wees.

Net die tyd sal leer wat die politieke landskap van Zuma-dom vir ons inhou.

Nou is dit egter tyd om van Zuma se kop af te klim en te gaan luister na die eerste toespraak van die nuwe leier van die regerende party.


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |