Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Felipe Massa eet derde keer Turkse lekkers
Istanboel. – Met drie vingers omhoog in sy Ferrari het ’n baldadige Felipe Massa gister sy driekuns aan oorwinnings in die Turkse Grand Prix met die skare gevier. Massa het van die voorste wegspringposisie spore gemaak en die troosprys van tweede plek aan Lewis Hamilton van McLaren-Mercedes oorgelaat. Kimi Räikkönen, Ferrari se wêreldkampioen, het sy greep op die eerste plek op die renjaerpunteleer behou met sy derde plek. Massa, wat sy twee vorige oorwinnings op dié baan wat 5.338 km lank is, ook van die voorste wegspringposisie behaal het, het ná die tyd grappenderwys gesê hy behoort nou vir ’n Turkse paspoort te kwalifiseer. “Dit was ’n fantastiese wedren. Dit was baie taai, maar om die derde keer agtereenvolgens hier te wen, is fantasties. “Toe Hamilton my verbygesteek het, het ek geweet ek het steeds ’n kans, omdat daar aan my gesê is sy strategie was om drie keer by die kuipe in te trek. Ek het geweet ek kon steeds wen. “Nou sien ek uit na die volgende wedren in Monte Carlo. Ons is besig om die motor vir hierdie wedren voor te berei waar McLaren verlede jaar baie sterk was. Ons sal hopelik goed vaar daar.” Massa het daarin geslaag om sy voorsprong by die wegspring te beskerm, maar Hamilton, wat derde weggespring het, het sy spanmaat, Heikki Kovalainen, verbygesteek. Räikkönen het ook sy plek probeer verbeter, maar omdat hy moes terughou om ’n botsing te verhinder, kon Fernando Alonso in die vyfde plek inskuif. Die veiligheidsmotor het op die baan verskyn ná ’n botsing tydens die eerste rondte tussen Giancarlo Fisichella en Kazuki Nakajima. Albei jaers moes hulle aan die wedren onttrek. Kovalainen, wat tydens die eerste rondte ligweg teen Räikkönen gebots het, moes die kuipe in die derde rondte weens ’n lekband besoek en moes hom daarna by die agterosse aansluit. Intussen het Hamilton, wat op Massa se stert geboer het, die Brasiliaan in die 24ste ronde verbygesteek. Massa het egter laaste gelag toe Hamilton kort daarna vir brandstof by die kuipe moes intrek. Toe was dit Räikkönen wat agter Massa in die tweede plek ingeskuif het nadat die renjaers voor hom ook die kuipe moes besoek. Hamilton het hom ná sy derde en laaste kuipestop tussen Massa en Räikkönen ingewurm. Nie een van dié drie jaers kon daarna vir die ander wegjaag nie. Hamilton, wat vanjaar nog net een wedren gewen het, het gesê hy is in sy noppies met sy tweede plek. “Ek was Saterdag effens teleurgesteld met my poging in die kwalifisering; om dus tweede te eindig is fantasties.” Die twee BMW-Saubers van Robert Kubica en Nick Heidfeld het onderskeidelik vierde en vyfde oor die wenstreep geblits, met Alonso sesde. – dpa
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|