Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Ian-hulle wen twee titels wat saak maak
MTN se fietsryspanne het gister in Oos-Londen op die laaste dag van die Suid-Afrikaanse padbyeenkoms die twee titels gewen wat saak maak. Ian McLeod het die elite-wedren vir mans gewen en die 18-jarige Cherise Taylor is die vroue-kampioen. Die ander groot held was die 20-jarige Jacques Janse van Rensburg van Neotel wat byna 60 km ’n alleenstryd teen die selfoonmaatskappy se jaers gevoer het. Dit het nie saak gemaak hoe warm die wenspan se jaers die pas gemaak het nie, want hulle kon nie Janse van Rensburg afskud nie. Op die ou einde het hy tweede oor die eindstreep gejaag en dit was goed genoeg om te verseker dat hy die Suid-Afrikaanse o.23-kampioen is. McLeod sê dat sy sege ’n spanpoging soos min was. Hy het net afgerond wat sy spanmaats begin het. Barry Austin, Neotel se spanbestuurder, het toegegee dat die MTN-jaers se spanwerk onverbeterlik was. “Dit was beslis hulle beste vertoning nóg,” het Austin gesê. McLeod en sy spanmaats het met vier rondtes oor ’n aanval geloods. Feitlik die hele span - McLeod, David George, Kevin Evans, Malcolm Lange, Neil MacDonald - het in dié breek weggekom. Janse van Rensburg en Christoff van Heerden van Konica-Minolta was die enigste ander jaers wat nie aan die slaap gevang is nie. Volgens McLeod het hy en sy spanmaats toe met “speletjies” begin. Dit was vir die selfoonspan belangrik om van Van Heerden ontslae te raak omdat hy baie haastig is wanneer ’n wedren op naelrit eindig. In die voorlaaste rondte het Van Heerden die aftog geblaas en die stryd was toe gewonne. Die wenspan se jaers het, soos hulle vooraf beplan het, verseker dat McLeod eerste oor die eindstreep jaag. Uit agting vir Janse van Rensburg se kanniedood-veggees is hy toegelaat om tweede oor die eindstreep te jaag. Waylon Woolcock was derde en George vierde. Johan Rabie van Neotel was die tweede o.23-jaer om klaar te maak en Burry Stander van GT/Mongoose derde. In die vroue-wedren het Taylor saam met haar spanmaat Cashandra Slingerland, Robin de Groot en Arien Torsius (albei Proline) en Elzette Visagie en Yolandi du Toit (albei Cyclelab) in ’n breek weggekom. Volgens Taylor wou die twee Cyclelab-jaers aanvanklik nie saam met hulle werk nie omdat hulle vir hul spankaptein, Lynette Burger, moes wag. Die voorsprong het al hoe groter geraak en nadat Burger die handdoek ingegooi het en in spanmotor geklim het, die wedren in alles erns begin. Slingerland se vertoning verdien vermelding, want sy het verskeie aanvalle geloods. Taylor vertel dat sy met nog net 500 m oor gedink het Slingerland gaan wen. De Groot was tweede en Visagie derde.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|