Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Isabel hardloop vierde vinnigste 200 m nog deur SA vrou
Suid-Afrika het weer ’n vroue-naelloper wat die wêreld se bestes kan klop. Die 21-jarige Isabel le Roux het dít gister op die laaste dag van die Afrika-atletiekbyeenkoms in Addis Abeba in Ethiopië bewys toe sy die 200 m in 22.69 sekondes gewen het. Dit is op vier na die vinnigste tyd nog deur ’n Suid-Afrikaanse vroue-atleet en die eerste keer in drie jaar dat ’n plaaslike atleet weer vinniger as 23 sekondes hol. Wat internasionale atletiek betref, het nog net vier atlete tot dusver vanjaar vinniger as Le Roux in die 200 m gehol. Maar nog meer belangrik, is dat Le Roux vir die Olimpiese Spele in Beijing gekwalifiseer het. “Coach, ons het dit gedoen!” was haar eerste woorde aan haar afrigter, Juan Strydom, ná die wedloop. Strydom erken dat Le Roux hom verras het. “Ek het gehoop sy hard-loop 22.9 sekondes of so iets, maar nie in my stoutste drome het ek gedink sy sal ’n 22.69 hol nie.” Volgens Strydom gaan dié tyd vir Le Roux deure in Europa oopmaak. “Ek het reeds gereël dat sy aan die einde van die maand aan twee kleiner byeenkom-ste in Nederland deelneem, maar dit sal nou selfs moontlik wees dat sy aan ’n Grand Prix-byeenkoms of twee kan deelneem. “Ek wil nie dat sy te veel gedruk word nie. “As haar afrigter wil ek hê dat sy nie aan meer as tien wedlope van nou tot die Spele deelneem nie. “Dit gaan vir my oor kwaliteit eerder as kwantiteit. Die uitdaging wat ek en Isabel het, is om te kyk of sy van nou af konstant tye van 22.69 kan hardloop, want dan kan sy ’n medalje in Beijing wen.” Dit was nie net Le Roux wat gister meer as haastig was nie. Thuso Mpaung van die Vrystaat was ook blitsig in die 200 m. Hy het in ’n tyd van 20.53 s gewen en daarmee ook vir die Olimpiese Spele gekwalifiseer. Sy wentyd is op 15 na die vinnigste nóg deur ’n Suid-Afrikaanse atleet. Wat internasionale atletiek betref, was nog net 12 atlete vanjaar vinniger as hy in die 200. Suid-Afrika se 4 x 400 m-aflosspan (Pieter Smith, Ockert Cilliers, Sibusiso Sishi en LJ van Zyl) het ook goud gewen. Hul wentyd was 3:03.58. Dan het Chris Harmse (hamergooi - 77.72 m), Hennie Kotze (110-hekkies - 13.95 s) en Sunette Viljoen (spiesgooi - 55.17 m) Saterdag goue medaljes verower. Suid-Afrika se atlete het die meeste medaljes op die vyfdaagse byeenkoms gewen, te wete 22 (12 goud, twee silwer en agt brons). Nigerië was tweede met 19 medaljes (sewe goud, sewe silwer, vyf brons) en Ethiopië derde met 15 (ses goud, ses silwer en drie brons).
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|