Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Thuso maak weer seker van Spele-plek
Van Suid-Afrika se “onsigbare” atleet na held in sewe weke. Dít is die suksesverhaal van Thuso Mpuang. Dié 23-jarige Kovsie is een van die min atlete wat daarmee kan spog dat hy reeds twee keer op die atletiekbaan vir die Olimpiese Spele in Beijing gekwalifiseer het. Wat sy vertonings merkwaardig maak, is die feit dat Mpuang nie as goed genoeg beskou is om aan die Geelbladsye-reeks deel te neem nie. Toe Mpuang Sondag in Addis Abeba, Ethiopië, op die laaste dag van die Afrika-atletiekbyeenkoms die 200 m in 20.53 sekondes gewen het, was dit maar sy derde verskyning op ’n groot byeenkoms en die eerste keer dat hy internasionaal deelneem. ’n Meer as trotse Ans Botha, sy afrigter, vertel dat sy haar amper dood bekommer het oor Mpuang. “Dit was die eerste keer ooit dat Thuso in ’n vliegtuig gevlieg het. Ek sou bitter graag saam met hom wou gaan, maar ek kon nie. “Voor sy vertrek het ek toe maar vir hom ’n ordentlike preek afgesteek oor die moets en moenies van internasionale atletiek. Ek dink die woorde het naderhand by sy ore uitgekom, maar hy het geluister.” Volgens Botha, wat Gerhard Barnard ook voorheen afgerig het, is sy nie verbaas oor Mpuang se sukses nie. “Thuso is waarskynlik een van die mees toegewyde en gedissiplineerde atlete wat ek al afgerig het.” Toe Botha gevra is waar Mpuang al die tyd was, was haar antwoord dat almal in die Vrystaat al lankal weet dat hy vinnig is. Die probleeem was om die organiseerders van die Geelbladsye-reeks te oortuig. “Week ná week het ons sy tye aan hulle deurgestuur, maar nie een keer is hy genooi om aan een van die A-wedlope van die reeks deel te neem nie. “Hy was net in Potchefstroom in aksie waar hy die C-wedloop in die 200 m gewen het. Hy het só ver voor sy naaste teenstanders klaargemaak dat ek die wedloop nie eens tel nie. “Wat my betref, was die Suid-Afrikaanse senior byeenkoms in Stellenbosch die eerste groot byeenkoms waaraan hy deelgeneem het. “Toe het hy op die Suid-Afrikaanse studentebyeenkoms in Pretoria die 200 m in 20.57 gewen. Hy het daar die eerste keer vir die Spele gekwalifiseer.” Die 23-jarige Mpuang het gister vertel dat hy maar vier jaar gelede ernstig aan atletiek begin deelneem het. Op skool in Mafeking het hy sagtebal en sokker gespeel. “Eers in my matriekjaar op ’n interhuisbyeenkoms het ek besef dat ek vinnig is en dat my bene my nog ver kan bring.” Mpuang vertel dat hy die 200 m verkies omdat hy sterk in naellope eindig. Botha meen as Mpuang se reaksietyd in die 100 m met die wegspring verbeter, gaan hy homself ook in dié naelloop laat geld.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|