Hoeveel het jý gewen?
Kliek hier vir die jongste én vorige Lotto-wennommers en uitbetalings.
Beeld
Olimpiese Spele in Beijing
Die SA span, nuus, agtergrond en ander inligting oor vanjaar se Olimpiese Spele in Beijing, China.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
Vennote


Comrades nou vroeër weens sokkertoernooie
May 12 2008 09:47:58:590PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Adnaan Mohamed


Kaapstad. – Die verandering van die datum van aanstaande jaar se Comrades-marathon gaan verreikende gevolge inhou vir langasems wat jaarliks aan dié uitmergelende padwedloop deelneem.

Atletiek Suid-Afrika (ASA) en die Comrades-marathonvereniging het gister bevestig dat dié ultra-marathon oor 89 km – wat volgende jaar vir die 84ste keer aangebied word – op Sondag 24 Mei 2009 sal plaasvind.

Altesame 34 atlete het op 24 Mei 1921 dié wedloop die eerste keer van Pietermaritzburg na Durban afgelê.

Die wedloop het voorheen op 31 Mei (Republiekdag) plaasgevind, maar is daarna na Jeugdag (16 Junie) geskuif.

In die millennium-jaar (2000) het die wedloop sowat 24 000 deelnemers gelok.

Die Konfederasiebeker-sokkertoernooi is vir 14 tot 28 Junie 2009 geskeduleer. Die Wêreldbeker-toernooi in 2010 begin op 11 Junie in Johannesburg. Die Comrades sal in 2010 dus na Sondag 30 Mei móét skuif.

Volgens die Comrades se uitvoerende hoof, Gary Boshoff, het hulle in samewerking met ASA besluit om die nuwe datums vroegtydig bekend te maak, omdat dit ’n invloed op die hele land se padwedloop-program gaan hê.

“Ja, die besluit is uiteraard geneem met die oog op 2010 se sokkertoernooi. Ons wou nie hê die Comrades moes daarmee saamval nie,” het Boshoff gister gesê.

Die implikasie van dié besluit is beslis groot aangesien dit die deelnemers se voorbereiding vir die volgende twee jaar drasties gaan beïnvloed. Datums van padwedlope in al die provinsies sal aangepas móét word.

Volgens die uitvoerende hoof van Boland Atletiek, Richard Stander, gaan dit nie net die KwaZulu-Natalse en Gautengse atletiekunies raak nie.

“Daar sal dringend met al die atletiekunies gepraat móét word. Die verandering van die Comrades se datum gaan heelwat implikasies inhou en gaan ’n groot impak hê op hoe ons ons padwedloop-program in die Boland moet aanpas.

“Statistieke van die laaste paar jaar wys deelnemers verkies nou korter wedlope, eerder as die ultra-marathon.

“Veral die jonger atlete verkies om aan wedlope oor 10 of 15 km of halfmarathons (21.1 km) deel te neem,” het Stander gesê

Maar volgens Boshoff beoog die Comrades-vereniging om die 2010-toernooi as ’n bemarkingsgeleentheid te gebruik om meer deelnemers na dié wedloop te lok.

“Ja, ons wil graag met toerisme-owerhede saamwerk om die Comrades en die sokker as een pakket te bemark.”

Boshoff gaan baie nou met die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) se uitvoerende hoof, Raymond Hack, saamwerk om die opwinding rondom die sokker te gebruik om ook die Comrades-marathon in die kollig te plaas.

“In 2000 het ons 24 000 deelnemers gelok. Ons het reeds besluit om die inskrywings vir 2010 al 10 maande voor die tyd oop te stel. Maar ons sal egter die aantal deelnemers moet beperk, aangesien die maksimum aantal hardlopers op die roete slegs tussen 15 000 en 17 000 kan wees,” het Boshoff bygevoeg.

Die Comrades het die afgelope twee jaar nie op Jeugdag plaasgevind nie. Dit sal vanjaar op Sondag 15 Junie van Durban gehardloop word.


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |