Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Virender ruk SA se boulers aan gorrel
Chennai. - Die Suid-Afrikaanse boulers gaan lank nog nagmerries kry oor Virender Sehwag se breë krieketkolf. Dié Indiese aanvangskolwer het die rekords laat tuimel gister hier op die derde dag van die eerste van drie toetse deur ’n onoorwonne 309 (503 minute, 292 balle, 41 x 4, 5 x 6) te moker. Sehwag het baljaar op die mak kolfblad en die tuisspan gehelp om ’n allemintige 468/1 in hul eerste beurt op te stapel. Suid-Afrika is vir 540 in sy eerste beurt uitgehaal. Wasim Jaffer (73, 251 m, 6 x 4, 1 x 6) en Rahul Dravid (65*, 251 m, 181 b, 8 x 4) het ook albei hul waarde getoon, maar die dag het sonder twyfel aan Sehwag behoort. Hy het 213 lopies saam met Jaffer om die eerste paaltjie aangeteken en sy vennootskap om die tweede saam met Dravid beloop reeds 255 lopies. Waar Jaffer en Dravid die lopies stadig ingeryg het, het Sehwag die Proteas se boulaanval moedeloos gemoker na elke uithoek van die veld. Hy is nou in uitgelese geselskap saam met Donald Bradman van Australië en die Wes-Indiese Eilande se Brian Lara as die enigste kolwers wat twee keer ’n 300-tal in toetse kon moker. Sehwag, die enigste Indiër wat met ’n 300-tal in toetse spog, het sy hoogste telling ge-ewenaar wat hy vier jaar gelede in Multan teen Pakistan aangeteken het. Sehwag het sy beurt gisteroggend op 52 hervat en sy honderdtal kort voor etenstyd aangeteken toe hy Jacques Kallis luglangs na die diepweg-grens gedryf het. Dié Indiese aanvangskolwer het sy tweede honderdtal kort voor teetyd aangeteken en sy driehonderdtal laat in die middagskof behaal toe hy ’n aflewering van Makhaya Ntini na regby vir ’n enkellopie gedruk het. Die gejuig van die sowat 30 000 toeskouers, wat gegroei het saam met Sehwag se telling, was oorverdowend. Vroeër het die linkerhandse draaier Paul Harris het die Proteas se enigste deurbraak gemaak toe hy van Jaffer ontslae geraak het ’n halfuur ná etenstyd. Jaffer is deur Kallis op eerste glip uitgevang nadat Harris hom buite die wegpen geklop het. Harris het lang rukke ’n lyn buite die bypen gehandhaaf om draai te probeer kry vanuit die voetmerke, maar kon Sehwag nie van stryk bring nie. Hy het van dié aflewerings met minagting weggeskop met sy linkerbeen. Ook nie een van die besoekers se naatboulers het die Indiese kolfster probleme besorg nie. Hy het veral onder Kallis en Makhaya Ntini ingeklim op ’n blad wat geen ondersteuning aan die naatboulers bied nie. Dravid benodig vandag 15 lopies om die slegs die sesde kolwer te word om 10 000 in toetse aan te teken. Twee van sy landgenote, Sunil Gavaskar en Sachin Tendulkar, die Australiërs Allan Border en Steve Waugh, asook Lara het dié besonderse mylpaal al bereik.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|