Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Jacques-hulle sukkel in IPL-krieketreeks
Kaapstad. – Ondersteuners wat glo Australiese krieket is op die afdraande pad, moet ’n bietjie die statistieke bestudeer ná die eerste week van die Indiese Premierliga. Australiese kolwers het die eerste tien dae van dié nuwe Twintig20-reeks oorheers. Vyf van die sewe kolwers op die lys van spelers wat ná Sondag se wedstryde met die meeste lopies spog, is Aussies. Matthew Hayden van die Chennai Super Kings het in vier wedstryde 189 lopies gemoker. Die Kiwi Brendon McCullum is tweede met 187 ná drie kragmetings. Die enigste ander nie-Aussie tussen die voorste sewe kolwers is die Sri Lankaan Kumar Sangakkara (172 ná vier). Hayden en Michael Hussey is die twee vernaamste redes waarom die Chennai Super Kings nog onoorwonne is. Dié span, wat deur Kepler Wessels afgerig word, se veldwerk is ook van beter gehalte as die ander spanne s’n. ’n Mens wonder of Wessels die sweep begin klap het net soos toe hy kaptein en afrigter in Port Elizabeth was. Baie kenners het voorspel die Australiese span, wat krieket die afgelope 12 jaar oorheers het, sal ’n herbouproses moet deurgaan nadat vier sterre uitgetree het. Shane Warne, Glenn McGrath, Justin Langer en Adam Gilchrist het almal meer as 100 toetse vir die Aussies gespeel en sulke ervaring word nie oornag vervang nie. Die manier waarop Hussey en Andrew Symonds hul stemme dik maak, wys die doemprofete was miskien te oorhaastig. Dan is dit ook waar dat nie een Aussie-bouler bo-aan die lys van presteerders is nie. Terwyl die Aussies die pap dik aanmaak, gaan dit nie voor die wind met die Suid-Afrikaners nie. Graeme Smith, die nasionale kaptein, is die enigste Protea wat ’n goeie reeks beleef. Hy het tot dusver 120 lopies in sy twee beurte vir die Rajasthan Royals aangeteken. Jacques Kallis, wat voorverlede week gemor het omdat hy nie die Cape Cobras se span vir die Pro20-halfeindstryd teen die Titans gehaal het nie, is een van die duurste spelers, ook wanneer hy boul. Die Bangalore Royal Challengers het meer as R7,2 miljoen vir dié speler se dienste betaal, maar dit lyk nié na ’n goeie belegging nie. Van al die boulers wat reeds meer as tien beurte in die liga afgestuur het, is Kallis se lopies per boulbeurt – 11.16 – die duurste. Miskien was die Cobra-keurders se besluit om hom nie te kies nie, ’n wyse een as jy na sy gesukkel in dié reeks kyk. Sree Sreesanth (10.60), Palani Amarnath (10.37) en Shaun Pollock (9.38 lopies per beurt) is van die ander boulers wat tot dusver die kwaaiste in die reeks deurgeloop het.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|