Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
SA en Engeland grom reeds vir mekaar oor nuutjie
Kaapstad. – Suid-Afrika en Engeland se krieketspanne grom reeds vir mekaar – nog twee maande voordat die eerste bal in die toetsreeks tussen hulle afgestuur word. Mickey Arthur, afrigter van Suid-Afrika, het gister gesê terwyl sy span ten gunste is van die proefneming dat spelers die skeidsregters se beslissings kan betwis, is die Engelse spelers glo nie daarvoor te vinde nie. “Al wat vir ons tel, is dat die regte besluite geneem word. Ons glo die nuwe stelsel sal beslis waarde toevoeg, maar ek verstaan die Engelse spelers is lugtig vir die proefneming,” het Arthur gesê. Die Internasionale Krieketraad (IKR) het vandeesweek die proefreël bekend gemaak wat soos tennis die spelers in staat stel om ’n skeidsregter se beslissing te betwis. Die skeidsregter sal dan die TV-skeidsregter raadpleeg. Die IKR het Engeland en Suid-Afrika gevra om die reël in die komende toetsreeks op die proef te stel. Die eerste van vier toetse begin op 10 Julie op Lord’s in Londen. As dit nie in die Engeland/Suid-Afrika-reeks getoets word nie, sal Indië en Sri Lanka dit in Julie in hul reeks beproef. Dit sal interessant wees om te sien of die Engelse TV-kanaal Sky Sports nie druk op die Engelse span sal plaas nie. Hulle het reeds nou met die IKR saamgewerk en sal graag die proefreël wil toets. Intussen het een van Suid-Afrika se voorste skeidsregters, Marais Erasmus, sy steun aan die nuwe stelsel gegee. Erasmus sê net soos Arthur dit is belangrik dat die regte beslissing geneem word. Dié gewese Bolandse speler het erken dit sal nie lekker wees as een van sy foute uitgewys word nie. “Ek dink daar is ’n kans dat ’n skeidsregter se selfvertroue nadelig beïnvloed kan word, maar as jy op internasionale vlak wil optree, moet jy dit kan hanteer,” het Erasmus gesê. Hy was in 2006 en 2007 se Suid-Afrika se skeidsregter van die jaar. Hy glo ook dat die nuwe plan baie van die plofbare situasies tussen die spelers kan ontlont. “Wanneer ek met die huidige stelsel ’n fout maak, mag die spelers niks vir my sê nie. “Dit word dan op die kolwers uitgehaal en dis waar die druk begin oplaai. Nou kan dit in die kiem gesmoor word,” het Erasmus gesê.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|