Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Goud soos bossies vir Usain en Jamaika-blitse
Beijing - ’n Derde goue medalje en ’n derde wêreldrekord. Dít is die manier waarop die blitsige Jamaikaanse naelloper Usain Bolt gister sy Olimpiese Spele afgesluit het. Die wêreldrekord in die 4 x 100 meter-aflos was sy derde in sewe dae. Bolt het gister darem nie ’n alleenstryd teen die stophorlosie gevoer nie. Sy spanmaats, Nesta Carter, Michael Frater en Asafa Powell, het hom gehelp om die wêreldrekord tot 37.10 sekondes te verbeter. Dit is 0.30 sekondes vinniger as die vorige wêreldrekord wat die VSA op die Spele van 1992 in Barcelona opgestel het. Sover bekend, is dit die eerste keer ooit dat een atleet drie wêreldrekords op ’n Spele op die atletiekbaan oortref. Wat skrikwekkend is, is die feit dat hy nou maar 22 jaar en 2 dae oud is. Daar kan maar net gewonder word oor wat Bolt in die volgende tien jaar, mits sy liggaam hom nie in die steek laat nie, met wêreldrekords gaan aanvang. Een ding is verseker. Bolt is saam met Michael Phelps, wat agt goue medaljes in die swembad verower het, van die jongste Olimpiese legendes. Voor daar nog weggespring is in gister se aflos, het almal al geweet wie gaan wen. Die enigste onbeantwoorde vraag was met hoeveel honderdstes van ’n sekonde Bolt-hulle die rekord gaan verbeter. Sonder om afbreek aan Carter en Frater se vertonings te doen, moet daar gesê word dat die oomblik toe Bolt begin hardloop, was die vaartversnelling meer as opmerklik. Bolt was só opgewerk dat hy bykans nog 20 meter agter Powell aangehardloop het nadat hy vir hom die stokkie gegee het. Daar kon nie gehoor word wat hy sê nie, maar uit Bolt se armbewegings kon ’n mens aflei dat hy Powell aangejaag het. Waarskynlik met die woorde: “Kom nou maat, roer jou, daar is wêreldrekord wat verbeter moet word.” Anders as met sy vorige twee wêreldrekords, was Bolt gister amper gedemp in sy feesvieringe. Net nadat die rekord verbeter is, het hy ’n denkbeeldig pyl die lug in opgestuur. Dit was dit. Dalk wou Bolt nie alleen in die kollig staan nie, of dalk het hy die vermanings van die Olimpiese owerhede oor té uitbundige feesvierings ter harte geneem. Bolt het lof vir sy spanmaats gehad. “Ek het voor die aflos vir hulle gesê hulle weet ons kan die rekord verbeter. Hul antwoord was: ‘Ja, ons weet ons kan en ons gáán.’ Al wat ek kan sê, is dat ons naellopers van Jamaika nog die wêreld gaan oorneem. “Ons was nog altyd vinnig, maar ons gaan net nog vinniger en vinniger word en die rekordboeke heeltemal herskryf.” Trinidad en Tobago was tweede in 38.06 en Japan derde in 38.15.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|