Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Hou fietsry dop in 2012, sê Burry
Beijing. – Die Olimpiese Spele in 2012 in Londen gaan ’n grote vir Suid-Afrikaanse fietsry wees. Só sê die 20-jarige Burry Stander nadat hy hier 15de in die bergfietswedren geëindig het. Hy was die jongste jaer tussen die eerste 15. Sy vertoning is ’n goeie weerspieëling van sy posisie op die internasionale ranglys. Hy is op 12 na die beste bergfietsryer ter wêreld en beklee die algehele vierde plek op die Wêreldbeker-reeks. Stander het ’n manmoedige vertoning gelewer. Hy het in die 14de plek weggespring en dadelik het dinge vir hom begin lol toe hy tot die 19de plek teruggesak. Maar toe wys Stander waarom hy as een van die wêreld se bestes beskou word. In die volgende drie rondes het hy 11 plekke ingehaal. Toe die vierde ronde aanbreek, was hy agtste. Dit wou net lyk of Stander dalk Suid-Afrika se medaljedroogte kon breek, maar in die laaste paar rondes het hy weer tot in die 15de plek teruggesak. “Dit was nie dat ek stadiger gery het nie. Ky maar na my tye in die onderskeie rondes. Dis baie bestendig,” sê Stander. “Wat die groot verskil tussen my en die ouer jaers was, is dat hulle op die oomblik sterker as ek is. Hulle kon teen die einde versnel en ek het teen dieselfde snelheid bly ry.” Stander meen die Wêreldbyeenkoms in Italië, waar hy ’n silwermedalje in die onder 23-wedren verower het, en die Olimpiese Spele het te kort ná mekaar plaasgevind. “Daar was nie genoeg tyd om weer my beste peil te bereik nie,” sê Stander. “Ek moes ’n keuse maak. Ek het besluit ek het ’n beter kans om op die Wêreldbyeenkoms ’n medalje te verower.” Stander moet gelyk gegee word as daar gekyk word na die vertonings op die Wêreldbyeenkoms en dié van eergister op die Spele. Benewens Nino Schurter van Switserland, het nie een van die jaers wat op die Wêreldbyeenkoms medaljes verower het, op die Spele ook op die podium gestaan nie. Schurter het op die Wêreldbyeenkoms die o.23-wedren gewen en was op die Spele derde. Die wêreldkam?pioen, Christopher Sauser, was op die Spele vierde. Stander is vol vertroue dat hy, Sifiso Nhlapo in die BMX-afdeling en John-Lee Augustyn en Cherise Taylor in padfietsry, in 2012 almal vir Suid-Afrika medaljes in Londen sal lostrap. “Ons is almal 22 jaar en jonger,” sê Stander. “Ons begin nou eers om ons volle potensiaal te ontwikkel. Dit is goed dat ons aan die Spele kon deelneem. Die ys is gebreek en ons weet nou wat ons moet doen.” Julien Absalon van Frankryk het in 1 uur 55 minute en 59 sekondes gewen. Hy was ook in 2004 in Athene die Olimpiese kampioen. Bergfietsry is sedert 1996 ’n Olimpiese sportsoort. Benewens die eerste Spele toe Bart Brentjens van Nederland gewen het, het die Franse jaers elke keer koning gekraai. Jean-Christophe Peraud was tweede in 1:57:06 en Schurter derde in 1:57:52.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|