Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Rassie het kaart in mou
Kaapstad. – Die Stormers wik en weeg nog of Ollie le Roux in Saterdag se Super14-rugbywedstryd teen die Lions die loskopstut sal wees, maar moenie verbaas wees nie as dit wel die geval is. Rassie Erasmus, afrigter van die Stormers, wou nie gister, soos gebruiklik op Maandae, die media ná ’n oefening te woord staan nie. Le Roux was ook nie beskikbaar nie. Die span se woordvoerder, Frikkie Erasmus, sê daar is nog nie ’n besluit oor Le Roux geneem nie. Al wat Le Roux in die verbygaan aan ’n joernalis gesê het toe dié hom gevra het oor hoe dit voel om hier te wees, was: “Goed! Goed! Goed!” Toe Jean de Villiers grappenderwys gevra is hoe dit voel om die ervare Le Roux by die span te hê, het hy geantwoord: “Geen kommentaar! “Ek dink dis die eerste keer dat ek ‘geen kommentaar’ antwoord,” het De Villiers agterna gesê. Die Stormers het nie gistermiddag geskrum nie, want dié afdeling van die spel kan vanmiddag onder die loep kom. Die Stormers was Saterdag op Nuweland maar power teen die Waratahs nadat hulle ook teen die Brumbies gesukkel het. Met oefentyd wat beperk is, is dit ook ’n keuse om Le Roux as ’n plaasvervanger teen die Lions op te stuur. Hy lyk fiks nadat hy die afgelope paar maande vir Leinster gespeel het. Hy is ná die oefening met sy kenmerkende glimlag saam met ’n paar ondersteuners afgeneem. Een van die keuses is om die agttal te behou. Maar daar kan ook besluit word om Brian Mujati terug na sy gereelde vaskop-posisie te skuif en Schalk Ferreira op loskopstut in te span. Dit sal beteken dat Le Roux een van die plaasvervangers kan wees. Wat die Stormers se afrigtingspan in aanmerking moet neem, is dat daar nog nie sekerheid is of hy toestemming gaan kry om Le Roux in ’n moontlike halfeindstryd te gebruik nie. Daar was ook goeie nuus vir die Stormers, want die vleuel Wylie Human is reg om die Lions aan te durf nadat daar aanvanklik kommer oor sy ribbes was. Die vaskopstut, Brock Harris, wat sy skouer liggies teen die Waratahs beseer het, is ook fiks. Sy plek kan egter in die gedrang kom. Die blitsige vleuel Tonderai Chavhanga het gister ’n rukkie saamgeoefen. Hy sal nie teen die Lions blootgestel word nie, maar sal in aanmerking kom as die Stormers ’n halfeindstryd haal. Die Stormers was gister in Durbanville vol vuur en dit was duidelik dat hulle die erns van Saterdag se kragmeting besef.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|