Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Frans Steyn het ’n 60/40-kans om te speel
Die stertkant van die Super14-reeks is kwalik die tyd om ou honde aan nuwighede bloot te stel, en die Sharks gaan gewis nie nou onverkende terrein voor hul wedstryd Saterdag teen die Chiefs probeer betree nie. Om die waarheid te sê, is die Sharks volgens hul hulpafrigter, Grant Bashford, terdeë daarvan bewus dat daar nie nou aan spanne of hul gewoontes getorring kan word nie. Bashford glo dit is nou in elk geval net ’n kwessie van oorlewing. “In die laaste paar weke gaan dit maar daaroor hoe skerp jy die spelers kan hou. “Ná 12 weke in die reeks is die spelers taamlik tam en ’n mens moet oppas dat jy hulle nie verder uitput nie. “Die geestelike ingesteldheid van die spelers is ook belangrik, want daar is nie veel wat jy in dié stadium van die seisoen op die oefenveld kan verander nie,” het Bashford gesê. Die Sharks en die Stormers is albei in die onbenydenswaardige posisie dat hulle op die vooraand van hul laaste ligawedstryde geen sekerheid oor hul doen en late volgende week het nie. Albei staan ’n kans om na Australasië vir ’n halfeindstryd te reis en daar is selfs ook die buitekans dat albei spanne Sondagaand in dieselfde vliegtuig oor die Indiese Oseaan gaan vlieg. Dit is egter onwaarskynlik. Om op Saterdag se wedstryd te fokus, maar ook volgende week se reisplan in gedagte te hou, is dus nie maklik nie. “As ons deurdring, is die plan om so vinnig moontlik in Sydney uit te kom,” het Bashford gesê. “Die probleem is dat die Stormers en die Chiefs straks ook dieselfde vlug sal wil haal. “Die spanne wat egter die halfeindrondes haal, kry voorkeur op sulke vlugte. Ons sal maar moet sien hoe dinge in plek gaan val. “Ons het egter nog nie oor al die reëlings gepraat nie,” het Bashford gesê. “Ons moet almal voorbereid wees. “Wanneer die spelers hul tasse pak, sal hulle dit moet doen met die idee dat hulle vir twee weke oorsee gaan wees,” het Bashford gesê. Daar heers steeds kommer oor die fiksheid van die Sharks se kaptein en slot, Johann Muller, en die senter Francois Steyn. Muller se kuitspier-besering het hom daarvan weerhou om teen die Cheetahs uit te draf. “Ons is nog baie bekommerd oor Johann. Ons weet werklik nie of hy gaan reg wees nie,” het die span se afrigter, Dick Muir, gesê. Die slegte nuus vir die Sharks is dat die rib-besering wat Steyn teen die Cheetahs opgedoen het, nie vinnig genoeg herstel nie. Muir sal dié sterspeler die hele week gun om van sy rib-besering te herstel. “Ons sal hom selfs tot ná die aankondiging van die span gun om van die besering te herstel,” het Muir gesê. Net om dit nie te laat klink of Steyn se deelname aan die wedstryd gewaarborg is nie, het Muir bygevoeg: “Ons kan hom natuurlik ook vanaf die plaasvervangersbank gebruik. “Ek gun hom ’n 60/40-kans om te speel,” het Muir gesê. As Steyn nie kan uitdraf nie, sal Brad Barritt stellig die nommer 12-trui dra. Dit is ook ’n ope vraag of die Sharks die bestendige Waylon Murray in die plek van Adrian Jacobs op buitesenter gaan kies.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|