Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
'SA spelers sal dom wees om te bly'
Kaapstad. – Suid-Afrika se top-rugbyspelers sal dwaas wees as hulle nie die geldpad na die Noordelike Halfrond neem nie. Dít was gister die merkwaardige uitspraak van die voormalige Springbok-stut Ollie le Roux, wat saam met die Stormers in Durbanville geoefen het. “Jy sal dom wees om in Suid-Afrika te bly as speler wanneer jy eers naam gemaak het,” het Le Roux gesê. “Die mense daar sien jou as ’n held, daar is nie soveel druk nie en die geld is ongelooflik. Ons het soveel goeie rugbyspelers in Suid-Afrika en ek voorsien dat baie van hulle oorsee sal gaan. Dis beslis die pad om te loop.” Volgens Le Roux het die Ierse streekspan Leinster belang gestel om om aan te hou om te help met afrigting. “Ek sal daar geregistreer bly (as speler) en as hulle my nodig het, kan hulle net bel. “Die geld wat ek betaal is, was meer as enige Springbok-kontrak wat ek nog ooit gehad het. Mense daar het ook meer waardering vir ervaring. Die media sien op na jou en kyk nie wanneer hulle jou kan laat uittree nie.” Oor wat gedoen kan word om spelers in Suid-Afrika te hou, het Le Roux gesê: “Clermont (’n Franse klub) se begroting is 22 miljoen euro (sowat R260 miljoen). Jy kan nie daarmee meeding nie. Die groot ding is om te probeer behou wat ons het en die spelers ’n toekoms te gee.” Le Roux het gister saam met die Stormers geoefen, maar dié span se afrigter, Rassie Erasmus, het gesê hy is nie in die planne vir die naweek se wedstryd teen die Lions op Ellispark nie. Hy wil die 22-tal wat met 13-13 teen die Waratahs gelykop gespeel het, probeer behou. Daar behoort egter ’n verandering in die voorry te wees, met Brian Mujati wat waarskynlik terug na sy beste posisie op vaskopstut sal skuif en Schalk Ferreira wat op loskop sal begin. Brock Harris sal na verwagting op die plaasvervangersbank wees. Daar kan ook ’n verandering onder die losvoorspelers wees, met Pieter Myburgh wat dalk op flank kan begin en Luke Watson wat terug agtsteman toe kan skuif. Dit kan beteken Robbie Diack sal onder die plaasvervangers wees. “Pieter kan dalk flank speel. Dis tussen hom en Robbie Diack. Ons het nog nie besluit nie.” Erasmus het oor die naweek juis melding daarvan gemaak dat die Lions se sterkpunt by die afbreekpunte lê. Myburgh is ’n spesialis baljagter en sal die Stormers se span waarskynlik in daardie aspek versterk. Hy het ook gister erken dat dit belangrik kan wees om vandeesweek ’n bonuspunt te behaal. Die Stormers sal egter teen afskoptyd weet of die droom om in ’n tuis-halfeindstryd te speel nog lewendig is. Een sterk moontlikheid is ook dat hulle dit met die Sharks sal uitbaklei om die vierde plek. In dié stadium is punteverskil al wat dié twee spanne skei, met die Stormers slegs nege punte beter daaraan toe. “Ons sal moet (mik vir die bonuspunt). Daar is geen twyfel nie. Jy kan egter maklik verloor deur dit te doen. As ons gewen het (teen die Waratahs), sou slegs ’n oorwinning hierdie naweek genoeg gewees het, ” het Erasmus gesê.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|