Video: Spikkels bring Beeld
Plof! Uit die bed, deur die veiligheidshek, af met die trappe tot by die motorhuisdeur...
Beeld
Matriek-fotokompetisie
Kyk na die eerste matriekafskeid-foto's.
Stuur jou foto na jip@beeld.com.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
Vennote


SA was lank genoeg All Blacks en Wallabies se slaansak
Jul 23 2008 10:44:49:530PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend

As Suid-Afrika na redes soek om die Drienasies- en Super14-rugbyreekse drasties te verander, is daar twee feite wat sy denkrigting moet bepaal.

Twee oorwinnings in 12 probeerslae in die Drienasies-reeks en net een in die Super14-reeks, getuig van dié land se onvermoë om sy stempel op sy Sanzar-vennote af te druk.

Die All Blacks met hul uitstekende spelbrekers los ons gereeld in trane, terwyl die Wallabies met al hul manewales ons takties uitoorlê.

Maar die reisverpligtinge waarmee Suid-Afrikaanse spanne elke jaar te make het, het hulle allermins begunstig.

Die Springbokke bestee aansienlik meer tyd in Australasië as wat Nieu-Seeland en Australië in Suid-Afrika deurbring.

As ’n span van die Stille Oseaan toegang tot die uitgebreide reeks kry, sal die Springbokke ’n bykomende wedstryd op toer moet speel en ook ’n besoek aan Argentinië aflê.

Buenos Aires is vir die Springbokke binne agt uur bereikbaar, maar om by dieselfde bestemming uit te kom, sal die Wallabies en die All Blacks langer as 12 uur na die gedreun van Aerolineas Argentinas se geroeste Boeing-enjins moet luister.

Dit is tyd dat die speeloppervlak ten opsigte van reisverpligtinge gelyk gemaak moet word en die uitbreiding van albei reekse, soos dit verlede week deur Sanzar voorgestel is, kan dié doel help dien.

Uitbreiding beteken nie dat Suid-Afrikaanse spanne minder sal reis nie, maar dat spanne van Australasië langer in hotelkamers en vertreksale van lughawens moet deurbring.

Bloot uit ’n reisoogpunt, maak dit vir Suid-Afrika sin om die reekse te hersien en Suid-Afrika se rugbybase moet dié idee met ywer bevorder.

Suid-Afrika moet ’n einde maak aan sy dae as Nieu-Seeland en Australië se slaansak en die radikale hersiening van albei reekse kan dalk die eerste tree in die regte rigting wees.

Dit het reeds aan die lig gekom dat die gewildheid van die Drienasies- en Super14-reeks afneem. Die uitbreiding van die Super12- tot die Super14-reeks, het om die waarheid te sê, kykertalle tuis en op die paviljoene geknou.

Boonop voel kykers dat rugbybase met die uitbreiding van die Drienasies-reeks ’n paar jaar gelede deur twee bykomende toetse per land in te sluit, net meer van dieselfde in hul kele probeer afdruk.

Daar moet nog besluit word of die toevoeging van twee spanne geldelik haalbaar sal wees. As dit nie die geval is nie, moet die Internasionale Rugbyraad (IRR) daad by die woord voeg.

Die IRR voer aan dat die tamaai opbrengste wat hy uit die Wêreldbeker-toernooi kry vir die ontwikkeling van die spel aangewend word en as dit wel die geval is, kan hy die toetrede van twee bykomende spanne in Sanzar se reekse subsidieer.

Eilande soos Fidji, Samoa en Tonga sal gewis nie die dollars met bywoningsyfers en kykertalle laat inrol nie en Argentinië sal ook nie juis Sanzar se kasregister uit sy nate laat bars nie.

Al doen hy dit nie vir onbaatsugtige redes nie, kan Sanzar wêreldrugby ’n tamaai guns doen deur sy reekse uit te brei.

Suid-Afrikaanse spanne staan dalk dan op ’n meer gereelde grondslag met ’n trofee en hul arms omhoog.


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |