Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Beijing en wêreld wag op SA se beste, vinnigste, dapperste atlete
Een van sport se grootste skouspele begin oor ’n bietjie meer as ’n maand af. Die Olimpiese Spele, wat vanjaar in China gehou word, begin op 8 Augustus. Hoe het dit begin? Daar is baie mites oor die ontstaan van die antieke Olimpiese Spele. Een van die gewildstes is dat Hercules die spele gehou het om sy pa, Zeus, te vereer ná hy sy 12 take klaargemaak het. Die oorspronklike Spele is volgens geskrifte in 776 v.C. gehou. Net jong mans het aan die Spele deelgeneem. Omdat dit as ’n viering van die menslike liggaam beskou is, het atlete kaal deelgeneem. Die eerste moderne spele is in 1859 gehou. Die Internasionale Olimpiese Komitee is in 1894 gestig en in 1896 het dié organisasie die Spele in Athene aangebied. Beijing 2008 Vanjaar se Spele word in China gehou. Die land se gasheerskap het egter al heelwat omstredenheid veroorsaak. China is veral onder druk oor sy betrokkenheid in Darfoer in Soedan. Die bekende regisseur Steven Spielberg het as raadgewer vir die openingseremonie hieroor onttrek – hoewel die Chinese regering sê hy is nooit aangestel nie. Volgens Spielberg bewapen China die Soedanse regering teen die rebelle en lei dit tot die dood van onskuldige burgers. China is ook onder druk om Tibet, ’n gebied in die suidwestelike deel van China, sy onafhanklikheid terug te gee. Dié bergagtige woestyngebied moet na regte deur die 72-jarige Dalai Lama – tans in ballingskap in Indië – regeer word. Al met die roete langs wat die Olimpiese fakkel na Beijing gedra word, betoog mense vir die onafhanklikheid van Tibet. Die Chinese regering loop ook onder kritiek deur weens menseregte-skendings in dié land. Daar is nie veel mediavryheid nie omdat die meeste koerante aan die staat behoort. Nuwe Olimpiese sportsoorte Vanjaar is daar nege splinternuwe nommers by die Olimpiese Spele. Twee nuwe BMX-fietsry-items word ingesluit. Vroue sal ook vir die eerste keer aan die 3 000 m-hindernisresies deelneem. ’n Marathon van 10 km vir swemmers word aangebied en daar is ook nuwe nommers in tafeltennis en skerm. Tussen 1960 en 1992 het Suid-Afrika weens sanksies teen die apartheidsregering nie aan die Spele deelgeneem nie. Sedertdien het ons egter al ’n paar goue oomblikke gehad. In 1996 het Penny Heyns twee goue medaljes in die 100 m- en 200 m-borsslag gewen. Josia Thugwane het ook in dié jaar ’n goue medalje in die marathon gekry. In 2000 kon SA nie ’n goue medalje wen nie en moes hoogspringer Hestrie Cloete met ’n silwermedalje tevrede wees. By die vorige Spele in 2004 het ons goue seuns, Roland Schoeman, Ryk Neethling, Lyndon Ferns en Darian Townsend, almal in die swembad verras met hul eerste plek in die 4x100 m-vryslagaflos. Dié vier het ook ’n wêreldrekord opgestel. Schoeman het ’n silwermedalje vir die 100 m-vryslag gewen en ’n brons in die 50 m-vryslag. Hestrie Cloete het weer ’n silwermedalje gewen en Mbulaeni Mulaudzi het ’n tweede plek in die 800 m gekry. Roeiers Donovan Cech en Ramon Di Clemente het ’n bronsmedalje gewen. Hoe lyk ons kanse vanjaar? Schoeman en Neethling gaan weer aan die Spele deelneem en staan verseker ’n kans om ’n paar medaljes los te swem. Op die atletiekbaan sal dit hopelik hierdie keer beter gaan. Mulaudzi wil in China verbeter op sy silwermedalje wat hy in Athene gewen het. Hy het sowat twee weke gelede in Spanje by ’n Grand Prix-byeenkoms tweede gekom en sy tyd was die derde vinnigste vanjaar. Khotso Mokoena, verspring-atleet, staan ook ’n goeie kans om ’n medalje in te palm. Hy het vroeër vanjaar by die binnenshuise wêreldbyeenkoms in Spanje ’n eerste plek behaal. In die 400 m-hekkies vir mans stuur SA ook ’n sterk span met Ter de Villiers, LJ van Zyl, Alwyn Myburgh en Ockert Cilliers wat reeds gekwalifiseer het vir die Spele. Oscar en Natalie Ná ’n lang stryd kan Oscar Pistorius se Olimpiese droom moontlik waar word. Die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) het vroeër vanjaar beslis dat Pistorius nie meer aan byeenkomste vir nie-gestremde atlete mag deelneem nie. In Mei het die arbitrasiehof vir sport beslis dat die IAAF Pistorius nie mag verbied om deel te neem nie. Of Pistorius dit gaan regkry om te kwalifiseer in die 400 m is nog onseker. As hy dit wel regkry, kan hy een van die eerste atlete word om in dieselfde jaar aan die Olimpiese en Paralimpiese Spele deel te neem. Natalie du Toit is reeds gekies vir die Olimpiese én die Paralimpiese span. Die twee byeenkomste gaan hoë eise aan haar stel omdat sy by die Olimpiese Spele aan die 10 km-oopwaterswem deelneem en by die Paralimpiese Spele aan die korter afstande. Olimpiese Spele 2008: Beijing
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|