Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Blou Maandag vir Bulletjies
Die grootste gif kom in die kleinste botteltjies, want die Blou Bulle en Westelike Provinsie sal vandag nog stuiptrekkings hê van die doepa wat hulle gister op die eerste dag van die 45 ste Cravenweek in Pretoria ingekry het. In 140 minute van opskuddings het die Pumas eers met die Streeptruie afgereken en toe was dit die Jong Arende se beurt om die mat sonder seremonie onder die gasheerunie, die Blou Bulle, uit te ruk. Die pragseges het aan die Pumas en Arende ’n plek in die “halfeindronde”, die hoofwedstryd môre, besorg. En welverdiend moet ’n mens byvoeg, want feitlik almal het gemeen dié eer sal die Bulle en WP toekom. Hulle kruis wel môre in die hoofvoorwedstryd swaarde, maar vir alle praktiese doeleindes het hulle die kans verbeur om steeds Saterdag in die hoofwedstryd te speel. Die grootste fout wat albei dié reuse kon begaan het, was om hul teenstanders te onderskat. Die eerste slag vir die aspoester-unies is deur die Pumas gelewer, wat die wenpunte teen die WP in die doodsnikke aangeteken het. Die wenspan se losskakel, Gary van Aswegen, het baie diep asemgehaal toe hy in die voorlaaste minuut teen die kantlyn vir die beslissende doelskop aangetree het. Dit was in die kol en die Pumas het met 19-17 gewen. En in hul 70ste bestaansjaar sou die Bulle se nederlaag teen die Arende (26-21) veral vir die voorsitter van die plaaslike reëlingskomitee, Jackie Tredoux, ’n bitter pil gewees het om te sluk. Tredoux het gister verjaar. Gelukkig vir die Wes-Kaap het die Boland die vaandel hooggehou met sy puik vertoning teen die Limpopo Blou Bulle. Die ander wenspanne van die eerste dag was die plattelandspan van die Oostelike Provinsie en Namibië, wat met onderskeidelik met Griekwas-Platteland en Grens-Platteland afgereken het. In die hoofwedstryd was die Bulle van meet aan in die moeilikheid. Hulle was gou met 13-0 agter, maar het mooi teruggeveg en in ’n stadium met 16-13 voorgeloop voordat hul eie onbeholpenheid finaal sy tol geëis het. Die Bulle het te veel kanse verspeel en die Arende verder kos gegee deur met te veel eerste duikslae te misluk. Hoewel die skeidsregter, Archie Sehlako, ewe onbeholpe was, het die Bulle te swak gespeel om die skuld vir hul nederlaag by hom te soek. Die Bulle moet net voor eie deur vee, want daar is geen verskoning vir hul lustelose vertoning nie. Dit was besaai met basiese foute. “Ons het geweet hulle gaan ons onderskat en al was ons tot teen die einde nog agter, het ek nooit getwyfel dat ons sal wen nie,” het die Pumas se kaptein, Hendrik la Grange, oor sy span se pragsege gesê. “Toe Gary vir die beslissende doelskop aantree, het ons almal geglo dit sal oor wees. Hy het immers nie alleen geskop nie, ons was almal in die gees saam met hom,” het La Grange bygevoeg.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|