Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
'Gay-gedrag is sonde'
Die Hervormde Kerk se algemene kerkvergadering het gister met ’n oorweldigende meerderheid van sowat 70% besluit “dat homoseksuele dade sonde is en soos alle ander sondes in die Bybel bely moet word”. Dié besluit is gisteroggend net voor middagete met 348 stemme teenoor 149 geneem nadat die vergadering die hele oggend gewy het aan die debat oor homoseksualiteit. Luidens die besluit het God die heteroseksuele, monogame huwelik ingestel as die ruimte waarbinne seksualiteit plaasvind. “Daarom moet die Christelike etiek enige vorm van homoseksuele gedrag en dus ook die sogenaamde homoseksuele huwelik afwys.” Die kerk maan gays om hulle te weerhou van homoseksuele gedrag en selfbeheersing toe te pas. Ondanks dié standpunt oor homoseksuele gedrag, verwelkom die kerk gays in sy midde. Die algemene kerkvergadering sê die kerk wil sulke mense vertroos en ondersteun. Die kerk wil ook alle vorme van homofobie en ander neerhalende optredes teenoor gays teëwerk. Met dié besluit het die algemene kerkvergadering die roetekaart verwerp wat die meerderheidsverslag van die studiekomitee oor homoseksualiteit voorgestel het. Daarvolgens sou die kerk gelowige gays as deel van die geloofsgemeenskap aanvaar en ’n studie onderneem na “betekenisvolle verhoudingsmoontlikhede vir álle mense”. Tydens die debat was dit duidelik dat verskillende afgevaardigdes die Bybel verskillend verstaan en verskillende boodskappe daaruit beklemtoon. Prof. Andries van Aarde, afgetrede professor in Nuwe Testament, het byvoorbeeld beklemtoon dat Jesus se boodskap is dat niemand op grond van geslagtelikheid uitgesluit moet word nie. Hy het gepleit dat die kerk dié wat verwond is, in sy geledere moet insluit. Prof. Yolanda Dreyer het vertel dat sy as kind en jong vrou haar liggaam gehaat het omdat dit haar tot ’n sekere soort lewe verdoem het en “verkeerd was” om predikant te word. Sy het gesê gays kan hul liggame op dieselfde manier haat omdat dit hulle verdoem tot ’n lewe van verwerping. Sy het gevra dat die Hervormde Kerk, soos met die toelating van vroue tot die kansel, sal besluit dat hule nie gays se liggaam teen hulle sal hou op grond van sekere Bybeltekste nie. Hierteenoor het verskeie ouderlinge en dominees gepleit dat die kerk hou by die tradisionele siening dat die Bybel homoseksualiteit verbied. Die kerk moet God se wet en oordeel verkondig en mense daarvolgens van sonde oortuig sodat hulle dit kan bely en vergewe kan word.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|