Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Era van goedkoop en oorvloedige krag op ’n einde – Thabo
Kaapstad. – Die era van baie goedkoop en oorvloedige elektrisiteit in Suid-Afrika is op ’n einde, het pres. Thabo Mbeki gister gewaarsku. Hy het egter in dieselfde asem gesê gegewe die groot basis van geïnstalleerde opwekkingskapasiteit sal Suid-Afrika vir ’n lang tyd nog een van die min ekonomieë met bekostigbare elektrisiteit bly. Mbeki het in sy staatsrede in die parlement namens die regering en Eskom om verskoning gevra vir die kragkrisis wat almal gedwing het om met die gevolge van “beurtkrag” te worstel. Hy het alle Suid-Afrikaners bedank vir hul veerkragtigheid en verdraagsaamheid tydens die kragkrisis. Volgens Mbeki is dit die regering se taak om die land te lei en te verenig in ’n veldtog oor doeltreffende elektrisiteitsverbruik. Die regering gaan ’n veldtog van energiebesparende ligte, sonkrag-waterverhittingstoestelle, die beheer van geisers in huishoudings en nuwe standaarde vir alle nuwe huise en ontwikkelings van stapel stuur. Alle regeringsgeboue is ook volgens Mbeki opdrag gegee om hul elektrisiteitsverbruik te verminder. Hy het Suid-Afrikaners aangemoedig om die geboue wat dit níé doen nie, aan die groot klok te hang. “Aan die verskaffingskant werk Eskom onverpoos om die mede-opwekkingsprojekte as ’n saak van dringendheid bekend te stel. Ons doen tans stappe om Eskom se instandhoudingskapasiteit te verhoog. “Ons het noodtaakspanne wat saam met die steenkoolbedryf aan die uitdaging van steenkoolkwaliteit en -verskaffing werk. Ons werk ook daaraan om die goedkeuring en konstruksie van gasturbines te versnel. Al dié planne, gesien saam met die kragbesparingsmaatreëls, sal sekerheid verbeter en die reserwemarge verhoog,” het Mbeki gesê. Die groot Eskom-bouprogram in nuwe generasie-, transmissie- en verspreidingskapasiteit sal voortgaan. Hy het ook die mynbedryf geloof vir die manier waarop hulle die kragkrisis hanteer. “Ons is ’n mineraalryke ekonomie. Ons moet dus voortgaan om die mynbedryf te ondersteun. Dit is onvermydelik dat indien ons voortgaan op die groeipad as ’n vervaardigingsland, ons ook moet voortgaan om die verwerkingsbedryf te steun.” Mbeki het verduidelik die aansienlike styging in elektrisiteitsaanvraag oor die afgelope twee jaar oortref die nuwe kapasiteit. “Die gevolglike taai verskaffingsituasie maak die hele stelsel kwesbaar vir enige voorval wat die beskikbaarheid van ons energie raak. In dié situasie moet ons die onbeplande krag-onderbrekings beperk. “Die enigste manier om dit te doen is om onmiddellik aanvraag te verminder en dus beter reserwes te verseker.”
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|