Hoeveel het jý gewen?
Kliek hier vir die jongste én vorige Lotto-wennommers en uitbetalings.
Beeld
Olimpiese Spele in Beijing
Die SA span, nuus, agtergrond en ander inligting oor vanjaar se Olimpiese Spele in Beijing, China.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
Vennote


Skerpioene 'teiken' Zuma
Feb 26 2008 08:46:19:613PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Verslagspan

Kaapstad. – Die volgehoue uitsprake van mnr. Jacob Zuma, president van die ANC, dat hy onregverdig deur wetstoepassers geteiken word, het gister stukrag by ’n parlementêre komiteeverslag gekry wat verklaar die Skerpioene hét hom “geteiken”.

Volgens dié veelparty-komiteeverslag, deur die parlement se waghondkomitee oor intelligensie, is die Sker-pioene die bron van die omstrede – maar gediskrediteerde – Special Browse Mole-verslag (sien kassie hiernaas).

Dr. Siyabonga Cwele, ANC-LP en voorsitter van die gesamentlike staande komitee oor intelligensie, het gister op ’n mediakonferensie verduidelik die Skerpioene het geen mandaat om intelligensie te versamel nie. Hy het benadruk dat die bevindings eenparig deur sy veelpartykomitee ondersteun word as deel van hul oorsigrol, en dat dit dus nie partypolities is nie.

Hy het ook gesê die komitee het aanbeveel dat die land se uitvoeren-de gesag teen adv. Leonard McCarthy, hoof van die direktoraat vir spesiale ondersoeke (DSO), moet optree. McCarthy het die saamstel van Browse Mole beveel.

Volgens Cwele moet die aard van optrede teen McCarthy bepaal word deur me. Brigitte Mabandla, minister van justisie. Haar woordvoerder, mnr. Zolile Ngqayi, het by navraag gesê geen besluit is nog geneem nie.

McCarthy se bevel was gegrond op inligting wat deur DSO-ondersoekers onder sy aandag gebring is.

Volgens die komiteeverslag was die insamel van inligting oor Zuma die doel van Browse Mole en is die finale weergawe deur mnr. Ivor Powell, ’n senior Skerpioen, opgestel.

Cwele het gesê die komiteeverslag het gefokus op die hantering van Browse Mole deur die DSO en nie die juistheid van die inhoud daarvan nie. Derhalwe word die manier waarop die DSO intelligensie versamel en wie met sensitiewe inligting werk, skerp deur die komitee veroordeel.

Die komitee beveel voorts aan dat die Skerpioene beveel word om die insamel van intelligensie te staak, die keuring van Skerpioene wat met sensitiewe inligting werk, strenger moet wees, private intelligensie-insamelingsaktiwiteite gereguleer en dat ’n oorsig van die DSO gedoen word.

Die komitee het bevind die DSO se samestelling van Browse Mole was “baie gevaarlik en teen ons nasionale belang”. Die inhoud daarvan is ook besonder opruiend en verdelend en “kan (dit) ons nuwe demokrasie in ’n chaos dompel”.

Adv. Paul Swart, die DA-LP op die komitee, het gesê al is die bevinding polities ongemaklik vir die Skerpioene, is dit die korrekte een.

“Ons waarsku al jare lank dat die Skerpioene nie intelligensiewerk mag doen nie.

“Die bevinding beskerm die regte van almal in die land.”

McCarthy het intussen gister aan die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie gesê hy glo daar is ’n “ander hand” betrokke by die uitlek van sensitiewe inligting aan die media.

Powell het nie op boodskappe ge­reageer nie en sy selfoon was af. Hy is in Januarie in Kaapstad op ’n klag van dronkbestuur in hegtenis geneem. Adv. Vusi Pikoli, geskorste nasionale direkteur van openbare vervolging, wou nie kommentaar lewer nie. – Pieter du Toit, Jan-Jan Joubert, Abigail Isaacs en Julian Rademeyer


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |