Hoeveel het jý gewen?
Kliek hier vir die jongste én vorige Lotto-wennommers en uitbetalings.
Beeld
Olimpiese Spele in Beijing
Die SA span, nuus, agtergrond en ander inligting oor vanjaar se Olimpiese Spele in Beijing, China.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
Vennote


‘Mý huis en ek wil hier bly’
Mar 13 2008 09:19:51:407PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Een van die huise op Pomfret nadat dit onder die kontrakteurs van die departement van openbare werke se hamers deurgeloop het. Foto: Nicolize van der Walt
Nicolize van der Walt


Pomfret. – Die gemeenskap van dié voormalige militêre dorpie het gister ’n klag van intimidasie en vandalisme teen die departement van openbare werke ingedien.

Dít volg nadat die departement eergister opdrag gegee het om verskeie huise in die dorp te begin sloop. Die gemeenskap het oproerig geword en die polisie het die skare met rubberkoeëls onder beheer gebring.

Volgens die polisie is een man op ’n klag van aanranding in hegtenis geneem nadat hy glo een van die kontrakwerkers sou aanrand.

Sowat 150 mense behoort teen 18 Maart uit dié dorp met sy nagenoeg 5 000 inwoners verskuif te wees. Die mense, waaronder talle weduwees en enkelma’s word in Mafikeng hervestig. Altesame 35 gesinne het vrywillig ingestem om verskuif te word.

Volgens die inwoners is dié 35 gesinne se huise kort nadat dit eergister ontruim is, deur werknemers van ’n private maatskappy uitmekaar geslaan.

’n Sterk polisieteenwoordigheid was gister by Pomfret se ingang sigbaar. Inwoners het gespanne in die strate geloop en gesê hul “harte voel nie lekker oor hoe dinge gebeur het nie”.

Die ongelukkigheid spruit uit ’n voorval waar die polisie eergister met rubberkoeëls op die inwoners losgebrand het.

Mnr. Raimundu Konga was sedert 1976 ’n soldaat in die elite-eenheid 32 Bataljon van die Suid-Afrikaanse Weermag.

Hy wil glad nie uit Pomfret trek nie: “Dis my huis en dis hier waar ek wil bly.”

Ander oud-soldate soos mnr. J.M. Gregorio vrees hy kan sy pensioen verloor as hy hom teensit en weier om te trek. Sy familie bly in Namibië.

“My regering sorg vir my en ek moet maar bly waar hulle my sit. Ek is fisiek gestrem, met net die gebruik van my een hand en my een been,” sê hy.

Mnr. Juan van Tonder van Lofdal Internasionaal bedryf die Emmanuel-kinderhuis op die dorp. Hy is veral bekommerd oor die kinders wat nou na Mafikeng verskuif word.

“Dié kinders praat Portugees. Gaan daar ooit vir hulle ’n skool wees op Mafikeng? Dis nou eksamentyd en hulle is nou verskuif. Van die ander kinders wat agtergebly het, is baie getraumatiseer deur die polisie by die hek, die skietery in die strate en die mense wat trek.”

Supt. Louis Jacobs, polisiewoordvoerder, het gesê: “Geen beserings is aangemeld nie. Dit is standaardprosedure om rubberkoeëls te gebruik om ’n skare in beheer te hou. Die polisie het die oproeriges gewaarsku alvorens skote gevuur is.”


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |