Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Menseregte-prokureurs wil Pomfret-verskuiwing stopsit
Pomfret. – ’n Span menseregte-prokureurs het ingegryp om die verskuiwing van inwoners uit dié oudmilitêre gemeenskap te keer. Mnr. Adrian Vorster, ’n prokureur van Pretoria, was gister omgekrap omdat ’n sterk polisieteenwoordigheid diegene wat glo vrywillig trek, gemonitor het. Dít nadat ’n advokaat in die Noordwes-premierskantoor, adv. Dibetso Bodibe, glo eergisteraand persoonlik aan Vorster die onderneming gegee het geen verskuiwings sou gister plaasvind nie. “Ons konsulteer die naweek met die gemeenskap en sal na verwagting volgende week ’n hooggeregshofaansoek teen die regering bring om die lae-intensiteitsoorlog te keer,” sê Vorster. “Hierdie mense word beslis geïntimideer en beïnvloed. Van hulle wat die ondernemings geteken het om vrywillig te trek, het nie eens geweet wat hulle teken nie. Die besluit van die regering is administratief van aard. “Die regering moet ’n voorbeeld stel deur wet en regsprosesse te volg,’’ is Vorster se mening. Die eerste groep van sowat 30 gesinne is verlede week vrywillig na Mafikeng verskuif. Kort nadat hul aardse goed gelaai is, is hul huise vernietig. Rubberkoeëls het in ’n stadium gevlieg toe van die inwoners oproerig geraak het. Nog ’n prokureur en omgewingsanalis, mnr. Tony Richard, wil ’n klag by die Menseregtekommissie teen die regering indien. Hy bestempel die proses as “etniese suiwering”. “Hierdie is ’n unieke, etniese minderheidsgroep. Dis swart Portugees-sprekendes wat in die oorlog in 32 Bataljon geveg het. Vandag is hulle oud en hou geen gevaar in vir enigiemand nie. “Die regering wil hulle met die verskuiwing dwing om te integreer en hul identiteit te verloor. Hierdie gaan nie oor politiek nie, maar oor die mense en hoe die regering hier wetgewing en prosesse toepas,’’ het Richard gesê. Supt. Koos Degenaar, provinsiale polisiewoordvoerder, het aan Beeld bevestig lede van die polisie se misdaadvoorkomingseenheid het gister die situasie op Pomfret gemonitor. “Ons is hier om die proses te monitor en is geensins betrokke by die proses van die verskuiwing van mense nie,’’ het hy gesê.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|