Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
In arres, 12 uur in sel oor sperstreep
Die sewe motorfietsryers en ’n motoris wat eergis- ter aan die Oos-Rand gearresteer en van roekelose en nalatige bestuur aangekla is omdat hulle ’n sperstreep op die hoofweg oorgesteek het, is vasberade om “terug te veg”. Hulle sê hul arrestasie was ’n “misbruik van mag”. Die agt mans het gister in die Germiston-landdroshof verskyn. Mnre. Howard Dembovsky (45) van Meyerton, André de Waal (49) van Meyerdal, Alex Lopes (26) van Mulbarton, Martin Sanders (39), ook van Mulbarton, Fernando Rodrigues (40) van Sunwardpark, Warren Thirlwell (34) van Henley on Klip, CJ Oberholzer (27) van Alberton en die motoris mnr. Motlatsi Pudumo (26) van Randfontein is eergister tussen 07:30 en 08:30 by die N12/N3-afrit naby Alberton gearresteer. Hulle is na die Germiston-polisiekantoor geneem waar hulle elk borgtog van R1 000 toegestaan is. Die laaste een is uiteindelik omstreeks 20:00 vrygelaat. Hulle is gister voor hul hofverskyning deur ’n prokureur en ’n man wat homself “die klerk van die Germiston-polisie” noem, genader om elk ’n skulderkenningsboete van R3 000 te betaal. Die mans het dit van die hand gewys. Dembovsky het gesê hulle is nie skuldig nie.“Hulle wil net hê ons moet skuld beken omdat dit die foutiewe arrestasies sou laat geldig lyk.” Die mans meen die manier waarop hulle deur die verkeersbeamptes en die polisie behandel is, is “onaanvaarbaar”. Volgens hulle is hulle sonder kos of water by die polisiekantoor aangehou. De Waal is glo mediese bystand geweier. Mnr. Norman du Preez, ’n prokureur, het gesê die mans het “op gronde van foutiewe arrestasie” ’n sterk saak. “Dis ’n absolute misbruik van mag.” Kapt. Steady Nawa, polisiewoordvoerder, het dié bewerings ontken. Hy het gesê dit is onaanvaarbaar dat dit die polisie byna 12 uur geneem het om die mans aan te kla en vry te laat. “Dié oponthoud sal ondersoek word.” Tydens hul arrestasie is daar glo aan die mans gesê dis deel van ’n oefening waarin nuwe verkeersbeamptes geleer word hoe om arrestasies te maak. Mnr. Dumisani Ngema, woordvoerder vir die departement van gemeenskapsveiligheid in Gauteng, het dié bewering ontken. Hy het gesê roekelose en nalatige bestuur is ’n ernstige, strafregtelike oortreding omdat dit ander se lewe in gevaar stel. “Daarom word daar nie op die plek boetes uitgereik nie.” Mnr. Niel Oberholzer, beheer-aanklaer, het gesê daar is onlangs ’n ooreenkoms tussen die Ekurhuleni-howe en die departement van gemeenskapsveiligheid aangegaan om mense wat oor ’n wit streep ry, te arresteer en nie op die plek te beboet soos met die meeste verkeersoortredings nie. “Dit is nou ’n ernstige oortreding, want baie ongelukke word só veroorsaak.” Die sake is tot 24 April uitgestel.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|