Hoe kan postmodernes sê Satan bestaan nié?
Stemme gaan deesdae op dat ons van die gedagte van die duiwel en die bose magte moet afsien.
Beeld
Super14-bepalings en -uitslae
Bepalings, uitslae, puntestand in 2008 se Super14-rugbyreeks. Klik hier vir die spanne, hul kleure. Nuwe reëls.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web   Teken in
Vennote


Bietjie gekrap en toe kry hulle die dwelms
Mar 28 2008 10:00:07:723PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Die Tshwane-metropolisie het eergisteraand op dié dwelms beslag gelê tydens 'n klopjag in 'n woonstel in Kerkstraat in Arcadia, Pretoria. Foto: Alet Pretorius
Hilda Fourie


Dit is makliker om kokaïen uit Colombia in te voer as om efedrien in Suid-Afrika in die hande te kry.

Só het supt. Mark Newham, hoof van die Tshwane-metropolisie se dwelmeenheid, gister gesê nadat hulle eergisteraand onder meer op meer as ’n halwe kilogram se efedrien beslag gelê het tydens ’n klopjag op ’n woonstel in Kerkstraat in Arcadia, Pretoria.

Sowat 650 g efedrien, 23 g kokaïen, amfetamien, heroïen en crack, asook organiese chloor wat die vervaardigers met die dwelms meng, is tydens die klopjag gevind.

Die straatwaarde van dié dwelms is sowat R50 000.

Newham het gesê efedrien word gebruik in die vervaardiging van metamfetamien, amfetamien, Cat en tik.

“Efedrien se straatwaarde is heelwat meer as die prys waarteen dit aan farmaseutiese maatskappye verkoop word,” het Newham gesê.

“In Suid-Afrika is daar ook streng kontrole oor efedrien.”

Beeld het vroeër berig dat dwelmsindikate die plekke waar efedrien gestoor word, beroof om hul hande op dié middel te kry.

Minstens drie invoerders van farmaseutiese roumateriaal weier daarom om efedrien in hul pakhuise te stoor.

Mnr. Verne Clark, hoof van veiligheid by Crest Chemicals, het gesê rowers wat op dié middel fokus, is hoogs georganiseerd.

“Dit is groepe van tot 15. Hulle sal nie huiwer om dood te maak nie. Tot ons ons veiligheid op ’n vlak kry waar ons wel die middel kan stoor, neem ons besendings eerder direk na kliënte soos dit inkom.”

Die Tshwane-metropolisie se dwelmeenheid het op die dwelmvonds afgekom nadat hulle eergistermiddag twee prostitute in Pretoria-Wes gearresteer het wat hulle na woonstel nommer 21 in die Rosemead-kompleks gelei het.

Die prostitute is gearresteer op ’n klag van die besit van dwelms.

“Hulle het ons presies gesê waar om vir wat te kyk,” het Newham gesê.

“Ons het ’n bietjie gekrap tot dat ons in die kombuiskaste op dié dwelms afgekom het.”

Twee Nigeriërs, wat onderskeidelik 33 en 31 jaar oud is, is in hegtenis geneem.

Hulle sal binnekort in die gemeenskapshof in Hatfield verskyn op aanklagte van die besit en vervaardiging van dwelms en handel dryf in dwelms.

Newham het gesê daar is ’n groot stryd tussen dwelmhandelaars om efedrien in die hande te kry. Die handelaars sal mekaar selfs daarvoor doodmaak.

Supt. Alta Fourie, woordvoerder van die metropolisie, het gesê dié klopjag is maar net een suksesverhaal in hul stryd om prostitusie en dwelmmisbruik te bekamp.


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |