In volle vaart - sonder perke
Daar is miljoene mense wat nie take kan voltooi of instruksies kan uitvoer nie, heeldag dagdroom of aan die gang is, maar niks gedoen kry nie.
Beeld
Super14-bepalings en -uitslae
Bepalings, uitslae, puntestand in 2008 se Super14-rugbyreeks. Klik hier vir die spanne, hul kleure. Nuwe reëls.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web   Teken in
Vennote


'Mense wil nie teruggaan, kom so bietjies-bietjies deur grens'
Mar 28 2008 09:59:54:003PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
'n Dogtertjie stap gister verby 'n advertensiebord in Musina, naby Beitbrug. Foto: Bongiwe Gumede
Cobus Coetzee


Beitbrug. – Meer mense het die afgelope week hier na Suid-Afrika gevloei as wat die grenspos na Zimbabwe oorgesteek het.

Mnr. Michael Malindi, poortkoördineerder by die Beitbrug-grenspos, het gister gesê altesame 18 684 mense het tussen Maandag en eergister na Suid-Afrika gekom terwyl net 10 103 mense na Zimbabwe is.

“Ons sien definitief minder mense by dié grenspos as vroeër. Dit is baie stiller,” het hy gesê.

Zimbabwe stem vandag onder meer vir ’n nuwe president.

Baie van die winkeleienaars, groenteverkopers en geldsmouse by dié pos was dit gister eens dat minder mense dié week die grens na Zimbabwe wou oorsteek.

“Dit lyk of die mense van Zimbabwe nie wil teruggaan nie. Hulle kom so bietjies-bietjies deur die grens,” het me. Mary Sithole (42), ’n Zimbabwiër, gister vertel.

Sy bedryf ’n winkeltjie aan die Suid-Afrikaanse kant.

Enkele motors het gister tussen 07:00 en 11:00 voor die valboom by die grenspos stilgehou.

Later gistermiddag het die verkeer stadig toegeneem, maar die grenspos was steeds nie oorvol nie.

“Dit is baie stiller as ’n paar weke gelede. “Selfs tydens die Paasnaweek was daar min busse wat na Zimbabwe gery het,” het Sithole gesê terwyl sy omring is deur vroue met groot swart handsakke.

Almal sit in die koelte, maar hul handsakke kleef steeds aan hul arms – handsakke vol Zimbabwiese dollars gestop. ’n Man ruil R1 000 vir Zim$70 miljoen.

Sithole self het ook ’n plastieksak vol geld in haar winkeltjie.

Sy sit geld by toe een van die vroue dollars kort.

Sithole het ’n geel T-hemp met die gesig van dr. Simba Makoni, presidentskandidaat en voormalige Zanu-PF-politburolid, se gesig op.

Agter, op elke tweede verkoopsman of geldruiler se rug by Beitbrug beloof Makoni hy sal Zimbabwe weer laat werk.

Mnr. MacDonald Shumba (23) sê honderde van dié T-hemde met Makoni se foto op is verlede week met ’n vragmotor daar afgelaai.

“Dit is ’n lekker T-hemp, maar ek sou nie vir hom (Makoni) stem nie. Ek vertrou hom nie,” het Shumba gesê.

Hy verkoop 25 liter-plastiekkanne vir R30 elk langs die N1 buite die grenspos.

“Mense maak die kanne vol petrol en diesel en vat dit dan oor die grens.”

Hy betaal seuns R1 om een kan te was.

Shumba sê hy wil vandag oor die grens gaan om vir die MDC te gaan stem.

“Ek sal vir die MDC stem. Ek wil verandering hê.” Sithole, wie se familie in Mutare bly, sê sy sal nie teruggaan om te stem nie.

Dis die meeste Zimbabwiërs hier se houding.“Die Zimbabwiërs is bang vir die polisie daar,” sê me. Gloria Ndou, ’n Suid-Afrikaner wat groente verkoop.

“Ek hoop net die grenspos bly nie so stil nie. Ons verkoop meeste van ons seep, rys en olie in die aand as die busse hier stop.”

Malindi het gister gesê meer grenspos-personeel is sedert 17 Maart by Beitbrug ontplooi en sal daar bly tot 2 April in die lig van die verkiesing.

Intussen maak Musina-munisipaliteit hom gereed vir ’n stroom van vlugtelinge. Mnr. Wilson Dzebu, woordvoerder, het gisteraand gesê ’n vlugtelingkamp sal in die dorp oprig word slegs wanneer die situasie in daardie land verswak of geweld uitbreek. “Ons is gereed om 3 000 vlugtelinge te ontvang. Daar sal tente, mediese sorg so vroeg as more (vandag) gereed wees,” het hy gesê.

Musina het die polisie gevra om by die vlugtelingkamp te help as geweld uitbreek of misdaad plaasvind.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en die departement van binnelandse sake sal ook met die vlugtelinge se reisdokumente help. “Nie-regeringsorganisasies soos die Rooikruis en Save the Children UK in Suid-Afrika sal ook help,” het hy gesê.


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |