Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Bloedspoor ná ontsnapping
Lichtenburg. – Dieselfde ontsnapte moordverdagte wat vermoedelik in Maart ’n tenger vrou in Ottoshoop gruwelik gemartel en toe vermoor het, was moontlik betrokke by die plaasmoord eergister op ’n egpaar buite Lichtenburg. Die polisie ondersoek dié moontlikheid nadat mnr. Phillip Moremi (29) Sondagmiddag omstreeks 17:00 saam met ’n huisrooftogverdagte uit die Ottoshoop-polisieselle ontsnap het. Beeld het betroubaar verneem dat Moremi op parool uit was en dus in die tronk en nié in polisieselle nie aangehou moes gewees het. Mnr. At (60) en mev. Katrien Deysel (56) is eergisteraand grusaam vermoor op hul aftreeplaas tussen Lichtenburg en Ottoshoop. Die lyke van die egpaar, wat 40 jaar getroud was, is eergistermiddag laat deur ’n buurman ontdek. Mev. Deysel is binne die huis geskiet. Die polisie kon teen druktyd nie bevestig of sy ook verkrag is nie. Haar man se lyk is ’n ent van die huis af agter ’n hoop klippe gekry. Sy keel is onder meer afgesny. Die moordenaars het ook een van die egpaar se honde doodgemaak, asook Pietie, mev. Deysel se mak ringnekpapegaai. Vier vuurwapens en ’n selfoon is gebuit. Die buurman het die egpaar se bakkie vroeër langs die pad sien staan en onraad vermoed omdat dit oënskynlik in ’n botsing betrokke was. Agter-op was onder meer vleis en ’n TV-stel. Bloed is ook in die bakkie gevind. “Hy was so lief vir hierdie bos aarde. Daarom het my pa nadat hy jare op die myne gewerk het, teruggekom hierheen. Hier, waar hy grootgeword het . . .” Só het mev. Theresa de Abreu, oudste dogter van die vermoorde egpaar, gister vertel. Mnr. Deysel was ’n afgetrede mynwerker wat die grootste deel van sy loopbaan by die Vaal Reefs-myn naby Orkney gewerk het. “My pa-hulle het niemand gepla nie. Hulle wou net ’n rustige oudag hê. Hulle het geleef vir hul diere en hul tuin. My pa het elke dier, elke plant, elke voël en boom se naam geken. Hy was soos ’n wandelende ensiklopedie. “My ma en pa het nie arbeiders gebruik nie, maar alles self gedoen. Dis nog só onwerklik. Dit is só onnodig,’’ het De Abreu gister gesê. “Ons gaan dit beslis nie hier los nie. Daardie mense moes nie die kans gekry het om weer te moor nie. Ons ma was ’n klein, fyn vroutjie.” Die egpaar word oorleef deur vyf kinders en agt kleinkinders. Teen druktyd gisteraand was polisielede van die Noordwes-lugvleuel, die honde-eenhede van Stilfontein en Potchefstroom en polisielede van onder meer Lichtenburg, Mafikeng en Delareyville besig om die beboste omgewing te fynkam vir leidrade en die moordenaars. Insp. Carina Fourie, polisiewoordvoerder, het die versekering gegee die soektog na die verdagtes sal voortduur. Benewens ’n ander inbraak nadat hy Sondagaand ontsnap het, word Moremi ook verdink van die moord in Maart op mev. Zaiboon Jeena (61) in Ottoshoop. Sy is verkrag, met ’n strykyster gebrand, met ’n mes gesteek en haar vingers is gebreek.
|
|||||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|