Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Waterkloof-4 se slagoffer ‘leef nog’
Die man wat in 2001 deur die sogenaamde Waterkloof-vier in ’n parkie aangerand is, het nié op die lykskouingstafel beland nie en loop dalk rond met letsels aan sy lyf. Dít is gister in die Pretoriase hooggeregshof aangevoer in dié vier vriende se appèl teen hul skuldigbevinding en vonnis op aanklag van moord. Christoff Becker (voorheen ’n leerling van die Hoërskool Garsfontein in Pretoria) en Frikkie du Preez, Gert van Schalkwyk en Reinach Tiedt (oudleerlinge van die Hoërskool Waterkloof), sal “hopelik” op 7 Mei die uitslag van hul appèl hoor, het die twee regters wat die appèl aangehoor het, gister aangedui. Die vier veroordeeldes, wat op borgtog is, was nie self by die hof nie. Hulle is meer as ’n jaar gelede deur streeklanddros Len Kotzé tot 12 jaar tronkstraf gevonnis nadat hulle daaraan skuldig bevind is dat hulle in Desember 2001 ’n onbekende, werklose man in dié parkie in Moreletapark, Pretoria, doodgeslaan het. Hulle is ook daaraan skuldig bevind dat hulle dieselfde aand nog ’n man in ’n ander voorval in die stad aangerand het. Becker, Du Preez en Van Schalkwyk was toe 16 jaar en Tiedt 15 jaar oud. Adv. Jaap Cilliers SC, namens die vier, het gister gesê die meeste feitelike kwessies in die moordklag is gemene saak – soos dat die man wel in die parkie aangerand is. Cilliers het egter aangevoer die lyk is nie dié van die man wat deur die vier aangerand is nie. Volgens die staatsgetuienis is die slagoffer só hard met ’n staalpuntskoen in die gesig geskop dat die staalpunt ingeduik het. Volgens polisiefoto’s “was daar nie ’n skrapie” aan die lyk se gesig nie, het Cilliers gesê. Cilliers het gesê Becker het getuig die persoon met wie hulle “interaksie” gehad het, was ’n groot man. Die lyk was egter dié van ’n baie klein persoon. Daar was baie min bloed op die toneel. Dit is waarskynlik dat die lyk behoort aan iemand wat elders beseer is en hierheen kon loop. Regter Willie Seriti het gesê hy vind dit eienaardig dat die vier van messe ontslae geraak het as hulle nie iemand gesteek het nie. “Waar is die wonde?” het Cilliers gevra. Óf die slagoffer is misgesteek, “óf iemand loop rond met merke. Ons het die verkeerde lyk.” “As enigiemand iemand anders wil vermoor, sou hulle hom nie in die been steek nie,” het Cilliers gesê. Adv. Johann Kruger, staatsaanklaer, het betoog dis onbetwis dat die persoon wat in die parkie aangeval is, twee keer met ’n hamer geslaan is. Dié twee houe pas in by die mediese getuienis. Becker en Van Schalkwyk was elk met ’n mes in die parkie. “Die hamerwonde en messteekwond pas in by die beserings van die oorledene,” het Kruger gesê. Die lyk se klere was deurdrenk met “ontsettend” baie bloed.
|
||||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|