Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Metropolisielid ‘is ’n biljoenêr!’
’n Durbanse metropolisiebeampte woon in ’n spoghuis van R15,5 miljoen terwyl hy slegs R15 000 per maand verdien. Sers. S’bu Mpisane (38) het egter in ’n onderhoud aan Beeld gesê hy is “siek en sat daarvoor om as ’n misdadiger gebrandmerk te word”. Volgens Mpisane is dit “alledaagse praktyk” vir lede van die Durbanse metropolisie om sakke vol geld te maak deur allerlei ander ondernemings te bedryf. Mpisane het sy kant van die saak aan Beeld gestel nadat hy in ’n onlangse artikel in die tydskrif Noseweek aan onwettige bedrywighede gekoppel is. Mpisane het toegegee hy is al verskeie kere ondersoek. “Benewens my werk as polisieman doen ek baie ander dinge, maar ek kan nie nou sê wat dit is nie. “Mense moet verstaan ek is nie ’n metropolisieman omdat dit pret is of omdat ek dinge wil toesmeer nie. “As jy na die metropolisie toe kom en al die voertuie sien wat hier staan, gaan jy verbaas wees. Jy het veiligheidsmaatskappye, jy het alles,” het Mpisane gesê met verwysing na sy kollegas se ander ondernemings, want die salarisse wat hulle betaal word “is nie geskik vir ’n mens nie . . . hulle vul dit met iets anders aan sodat hulle nie omkoopgeld hoef te vat nie”. Mpisane het gesê hy word geteiken deur “rassistiese skinderbekke” wat jaloers is op sy sukses. “My lewe gaan oor ondersoeke teen my: die Skerpioene, NIA, die eenheid teen ernstige geweldsmisdaad. Ek het al baie deurgemaak net omdat ek ek is. Hoekom word ek dan nie gearresteer as ek ’n misdadiger is nie?” Beeld het vasgestel dat Mpisane, wat reeds 13 jaar lank ’n metropolisielid is en ’n salaris van R15 000 per maand verdien, die huis in die spogwoonbuurt La Lucia op 7 Junie verlede jaar gekoop het vir R12 miljoen. Volgens die titelaktes het hy ’n verband van slegs R5,2 miljoen op die eiendom uitgeneem. Twee maande later het hy die aangrensende erf vir R5,2 miljoen gekoop. Mpisane en sy vrou, Flora-Junior, is die enigste geregistreerde eienaars van die onderneming Zikhulise Auto Restorers BK. Mpisane is ook die enigste direkteur van die maatskappy Inyanga Trading 559. Luidens die artikel in Noseweek word ANC-hoës dikwels by Mpisane se huis gesien. Die tydskrif beweer ook dat Mpisane in 1998 betrokke was by ’n skietery tussen polisiebeamptes en taxi-skieters buite die Durbanse hooggeregshof, waar vier mense, onder wie ’n polisiebeampte, gesterf het. Volgens Noseweek het die BMW M5 waarin van die skieters weggejaag het, aan Mpisane behoort. Kapt. Thomas Tyala, woordvoerder van die Durbanse metropolisie, het by navraag aan Beeld gesê: “Julle is nou besig met ’n groot vis.” Tyala het toe die telefoon aan ene Themba Sosibo oorhandig, wat homself as “Mpisane se woordvoerder” voorgestel het en Beeld se verslaggewer in Zoeloe gedreig het: “Jy is nie hier met sommer net enigiemand besig nie. S’bu sal jou koerant vat en versnipper. Dan gaan jy huil en jou lewe kan dalk in gevaar wees. Jou familie sal huil.” Beeld het later vasgestel Sosibo is in werklikheid ’n metropolisiebeampte met die naam Ayanda Msweli. Msweli het na Mpisane as sy boss verwys en gesê daar is baie verkeerde dinge oor laasgenoemde gesê. “Hy is nie ’n miljoenêr nie, hy is ’n biljoenêr!” Msweli en Mpisane is ook geregistreer as die direkteure van die nie-winsgewende maatskappy Independent Club, wat deur hulle beskryf word as ’n organisasie wat bemiddel in konflikte tussen vakbonde in die Ethekwini-metrogebied.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|