Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Sake-sneltrein wil verkeerschaos pak
Die daaglikse spitsverkeerkrisis van Pretoria na Johannesburg is van vandag minder hoofbrekens - of só hoop die departement van vervoer en die Tshwane-metroraad. Mnr. Jeff Radebe, minister van vervoer, het gister die splinternuwe Business Express-trein tussen dié twee stede by die Pretoria-stasie geopen. Dié trein is daarop gemik om die talle sakelui en werknemers te help wat daagliks vanaf Pretoria na hul werk in Johannesburg en terug pendel. Dié spoggerige trein vorm deel van die departement se langtermynplanne om die openbare vervoerstelsel vir alle Suid-Afrikaners toegankliker te maak, veral met die oog op die Wêreldbekersokkertoernooi in 2010. Volgens Radebe is dié konsep al baie suksesvol nadat soortgelyke Express-treindienste verlede jaar in Soweto in die suide van Johannesburg en Khayelitsha in Kaapstad begin is. Dié Business Express-trein sal sowat 530 passasiers soggens van Pretoria na Johannesburg, en retoer smiddae, kan vervoer teen minder as R750 per persoon per maand. Radebe het gister gesê vrese rondom veiligheid op die trein en veral kommer oor veilige parkering vir private voertuie by die treinstasies is bo-aan die prioriteitslys. Buiten die meer as 5 000 spoorwegpolisielede wat by die stasies vir dié projek ontplooi word, sal kringtelevisiekameras by veral die treinstasies en bus- en taxistaanplekke aangebring word, het hy gesê. “Ons wil die Metrorail-stelsel só transformeer dat dit gehaltediens in die openbare vervoerstelsel aan alle Suid-Afrikaners kan bied, ongeag hul sosiale status, klas en agtergrond.” Dié luukse trein spog met ’n vinnige reistyd van nét onder een uur tussen die twee stede, gemaklike sitplekke én besparing op stygende brandstofpryse. Passasiers kan volgens die departement uitsien na ’n veilige rit met tien veiligheidswagte daagliks aan diens, gratis verversings en gratis koerante, werkstasies en rekenaar- en internetdienste aan boord. Die trein sal onderweg na Park-stasie in Johannesburg net by die Centurion- en Kempton Park-stasie stop, met busdienste van Kempton Park-stasie na die O.R Tambo-lughawe. Volgens Radebe sal die Business Express-trein nie met die beplande Gautrein meeding nie, maar dit aanvul. Dr. Gwen Ramokgopa, uitvoerende burgemeester van Tshwane, en mnr. Irvin Khoza, Fifa se voorsitter van die plaaslike reëlingskomitee vir die wêreldbeker, het dié inisiatief verwelkom. Die openbare bus- en taxistelsel van en na die betrokke treinstasies sal ook deel vorm van dié inisiatief en ingesluit in dié trein se pakket is gratis busdienste binne ’n radius van 25 km in die onderskeie stede. Dit word voorts beplan om dié treindiens later uit te brei met ekstra vertrektye deur die dag. Radebe het gister ’n beroep op die private sektor en openbare instellings gedoen om die projek te ondersteun deur korporatiewe pakkette vir hul werknemers te koop.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|