Sorg só vir die aarde én jou gesin
Om eko-vriendelik te wees is lankal reeds mode skryf Liezel Joubert.
Beeld
Super14-bepalings en -uitslae
Bepalings, uitslae, puntestand in 2008 se Super14-rugbyreeks. Klik hier vir die spanne, hul kleure. Nuwe reëls.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web   Teken in
Vennote


Barrie Kalahari op sy sendingtog na Pretoria
May 09 2008 10:01:41:483PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Barrie Kalahari, gister met sy perd Queen tussen Boons en Hekpoort in Noordwes. Foto: Theana Calitz
Neels Jackson


njackson@beeld.com

Ná meer as 1 000 km is Barrie Kalahari nog pure perd – om nie van sy Queen te praat nie.

Barrie is eintlik pastoor Barnard Burger van die Apostoliese Geloof-sending (AGS), maar hy sê dis net sy skoolmaats van langer as 30 jaar gelede wat dié name sal herken.

In die kerk is hy bekend as Barrie van die Kalahari, die langhaar-sendeling wat met sy perd, Queen of Hearts, die duine platry om die alleenharte van die woestyn met die evangelie te bedien.

Maar teen gister het Barrie iewers tussen Boons en Hekpoort in Noordwes getrek, ’n paar dae weg van sy bestemming in Pretoria.

Hy het op 16 Maart vanjaar uit die Agter-Kalahari vertrek, van die Namibiese grens naby Noenieput, om meer presies te wees.

Die lang tog na Pretoria, teen so 25 km per dag, is sy bydrae tot die AGS se eeufees wat oor net meer as ’n week in Pretoria gevier word. Vir homself, sê Barrie, was dit ook ’n gedenktog van sy 30 jaar in die bediening – die laaste 22 jaar daarvan in die Kalahari.

Queen, sy merrie, is gebore op die dag van prinses Diana se begrafnis. Dis tóé dat sy haar naam gekry het. En sy is net so ’n minsame karakter as wat Di ooit kon wees. Van Noenieput af het hulle al met die Molopo opgetrek. Kalkdraai, Andriesvale, Middelputs, McCarthysrust, noem Barrie die plekke op waar hulle was. Daarna was dit Vorstershoop, Piet Plessis, Mafikeng, die Molopo en Marico se oog, Koster, Derby, Boons.

Langs die pad het hy twee agterryers bygekry. Ben Jansen (15) en past. Alfred Malenga ry nou al die laaste byna 700 km saam met hom.

Barrie sê hy hoop die rit help Ben om sy pa se dood verlede jaar te verwerk. Malenga is ’n Zambiese pastoor wat onder Tswanas sendingwerk doen en wat op die rit leer perdry het. Barrie sou lank kon praat oor al die avonture van dié rit. Die kamp met leeus waardeur hulle is sonder dat hulle geweet het van die leeus, die ysige koue ná die Marico-oog, ’n ou studentemaat wat hy ná 35 jaar weer op Piet Plessis raakgeloop het. Maar een van die hoogtepunte was eergister, toe hy die 1 000 km-merk genader het.

Hy het nog gewonder hoe hy dit gaan vier, toe kom hy twee swart mans onder ’n boom teë, een van hulle ’n AGS-pastoor. Hulle het vir hom gebid, vir hom vis en skyfies en Coke gegee. Nou lê die laaste entjie nog voor, na die kerk in Brooklyn waar hy gaan afsaal. Dalk, sê Barrie, word al die stories van dié epiese reis nog eendag ’n boek.


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |