Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Swaar druk van Mbeki in brief oor Selebi-saak
Pres. Thabo Mbeki het swaar druk op me. Brigitte Maband- la, minister van justisie, geplaas om die Skerpioene se ondersoek na komm. Jackie Selebi, polisiehoof, te stop. Só blyk dit uit ’n brief wat Mbeki op 17 September verlede jaar aan Mabandla gestuur het – enkele dae voordat hy adv. Vusi Pikoli, nasionale direkteur van openbare vervolging, geskors het. Pikoli hou vol die Selebi-ondersoek is die rede vir sy skorsing. Dr. Frene Ginwala het dié brief gister tydens die derde dag van die verhoor van die Ginwala-ondersoek in Johannesburg uitgereik. Die ondersoek moet vasstel of Pikoli geskik is om sy werk te doen. Ginwala het eergister die brief gemuilband omdat die staat volgehou het dat die brief die privilegie van Mbeki en Mabandla was en nie vir die publiek se oë bedoel is nie. Mbeki se regering kon egter nooit gronde vir die aanspraak op privilegie aan Ginwala verskaf nie, wat haar genoop het om die brief te openbaar. Pikoli se regspan het ook die lat ingelê en die regering en spesifiek adv. Menzi Simelane, direkteur-generaal van justisie, daarvan beskuldig dat hy eers ontken het dat so ’n brief bestaan en toe geweier het om die brief te oorhandig. “Dit was oneerlik. Die regering moet oop kaarte met Pikoli speel,” het adv. Wim Trengove, vir Pikoli, gesê. Mbeki het in sy brief verlede jaar Mabandla herinner wat haar pligte volgens die Grondwet en die Wet op die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) is. Mbeki het beklemtoon Mabandla “moet finale verantwoordelikheid oor die vervolgingsgesag neem” en Pikoli “sal ” inligting oor die ondersoek na Selebi aan haar verskaf. Hy noem egter nooit uitdruklik dat Mabandla die ondersoek moet stop nie. Mabandla het die dag daarna ’n brief aan Pikoli geskryf. Sy het daarop aangedring dat Pikoli alle inligting oor die Selebi-ondersoek aan haar moet verskaf. Sy sou eers “tevrede moet wees dat dit in openbare belang is” voordat hy verder met die ondersoek kon gaan. Pikoli het geantwoord dat die minister die Grondwet en die Wet op die Nasionale Vervolgingsgesag oortree het – en dat hy haar kon aankla. “Om in die regsproses in te meng is ’n misdaad,” het Trengove gesê. Dié misdaad kan tot ’n onbeperkte boete of tien jaar tronkstraf lei. Simelane het tydens kruisverhoor volgehou dat Mabandla “nie op ’n onbehoorlike manier probeer inmeng” het nie. Mabandla of Mbeki sal waarskynlik nooit self voor die verhoor van die Ginwala-ondersoek verskyn om hul optredes tot die aanloop van Pikoli se skorsing te verduidelik nie. Ginwala het gister ná die verhoor gesê dit is die staat se keuse of hy Mbeki of Mabandla sal vra om te getuig. “As hulle dink dit sal hul saak versterk, kan hulle dit doen,” het sy gesê. Ginwala het gister die verhoor tot Maandag 23 Junie uitgestel – twee dae voordat die hofsaak teen Selebi begin.
|
||||||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|