Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
‘Maak hom van kant’ hoor man net voor polisie, firma hom red
Durban. – Net toe kapers hom waarskynlik ná ’n ure lange beproewing in ’n bos sou doodskiet, is ’n man van die KwaZulu-Natalse noordkus deur lede van ’n satellietopsporingsmaatskappy en die polisie gered. In sy kapingsnagmerrie van bykans vier uur Sondagaand is mnr. N. Sibiya (23) van Esikhawini buite Empangeni nie net van sy bankkaarte en besittings beroof nie, maar is hy gedwing om by te wees toe die kapers nog twee keer probeer toeslaan het. In een van dié voorvalle moes ’n erg getraumatiseerde Sibiya toekyk hoe een van die kapers ’n man in sy oprit in Empangeni in die hand skiet nadat die rower sy slagoffers uit die motor geboender, maar toe daarmee in die hek vasgery het. Volgens supt. Muzi Mngomezulu, polisiewoordvoerder, het Sibiya se nagmerrie Sondag omstreeks 17:30 begin toe sy Ford Focus gekaap is terwyl hy langs die straat met ’n vriendin gepraat het. Die vier kapers het met hom weggery. Twee van die kapers is afgelaai om by ’n kitsbank geld uit sy bankrekening te onttrek, maar Sibiya is gedwing om die ander twee kapers op hul misdaadtog te vergesel, het mnr. Gareth Crocker, woordvoerder van Tracker, gesê. Die kapers het kort ná 18:00 in ’n oprit in Empangeni op ’n egpaar toegeslaan, het Mngomezulu gesê. Die man en vrou is uit die motor geboender en een van die kapers het die motor uit die erf probeer trek, maar teen die hek vasgery. Op pad terug na Sibiya se motor het die kaper op sy nuwe slagoffer geskiet, al het die man vroeër aan hom die sleutels gegee. Sibiya het later vertel die rowers het daarna nog ’n motor gesoek om te kaap, maar is deur ’n polisiepatrollie afgeskrik. Teen 21:00 het die kapers Sibiya na ’n bos langs die R102 buite Empangeni geneem. Die kapers het vir hom gesê hy het ’n laaste kans om hulle nog buit te gee. Sibiya se reaksie was dat hy niks meer hét om te gee nie: Hulle het reeds sy bankkaarte, beursie, selfoon, skootrekenaar en motor gevat. Daarna het die een kaper aan sy makker gesê: “Maak hom net van kant.” Die volgende oomblik het beamptes van Tracker by Sibiya se motor opgedaag met lede van Empangeni se blitspatrollie en honde-eenheid kort op hul hakke, het Crocker gesê. Die kapers het weggehardloop. Tracker en die polisie was op die spoor van Sibiya se motor vandat ’n vriend vroeër die aand van die kaping gehoor en Tracker in kennis gestel het.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|