Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Dáárom speel Waterkloof-4 se Gert vir Pumas
Kaapstad. – “Dit gaan my verstand te bowe dat (Gert) Van Schalkwyk (een van die sogenaamde Waterkloof-vier) ’n LP, adjunkminister, minister en selfs die president (van Suid-Afrika) kan word, maar hy word nie toegelaat om rugby te speel nie.” Só het mnr. Hein Mentz, president van die Mpumalanga-rugbyunie (MRU), gister aan die parlementêre portefeuljekomitee oor sport en ontspanning gesê. Hy is voor dié komitee gedaag om sy unie se besluit om Van Schalkwyk by die Puma-span in te sluit, te verdedig. Volgens Mentz kan Van Schalkwyk ingevolge die Grondwet as LP dien omdat sy verdere appèlsaak nog nie afgehandel is nie. Van Schalkwyk en sy medeskuldiges se skuldigbevinding en 12 jaar tronkstraf is verlede week deur die Pretoriase hooggeregshof bekragtig. Hulle wend hulle nou tot die appèlhof. Van Schalkwyk het verlede maand as haker vir die Pumas in die Vodacombeker-reeks gespeel. Mentz se hoofargument was dat Van Schalkwyk in die span toegelaat is omdat sy appèl nog hangend is en hy hom dus as “onskuldig beskou totdat hy skuldig bevind word”. Mnr. Butana Khompela, voorsitter van die komitee, meen Mentz se stelling spruit uit ’n “diep sarkasme wat gegrond is op ’n aanname dat ministers misdadigers is”. Mnr. Tsietsi Louw, ANC-LP, het gesê dit is vir hom opvallend dat Mentz geen berou toon nie en dat sy hantering van die kwessie “hoogs arrogant” is. “Ons verwag van u ’n bietjie berou namens Van Schalkwyk en sensitiwiteit van die unie. Dit verbaas my egter nie dat daar niks van dié aard is nie. “Ons woon hier in Suid-Afrika en wil nie die voorbeeld van Zimbabwe volg nie. Die probleme in Zimbabwe is as gevolg van mense soos u. “Doen ons asseblief ’n guns en gaan woon op Orania. U, as ’n leier, moet ten minste ’n bietjie berou toon,” het Louw sy misnoeë laat blyk. Mentz se reaksie hierop was dat sy verhuising na Orania nie ’n groot verskil sal maak nie. “Orania is steeds deel van Suid-Afrika, so wat geld in dié land geld ook daar. Ek is ook geregtig daarop om in dié land te wees en sal selfs in Orania betrokke wees by sport.” Volgens Khompela kom die kwessie neer op ras. “Die rede waarom sy skuldigbevinding summier onder die mat gevee kan word, is omdat die persoon wat hy vermoor het, swart is en ’n swart man se lewe nie veel werd is in dié land nie,” het hy bygevoeg. Die Suid-Afrikaanse rugbyunie (Saru) sowel as die provinsiale en nasionale departemente van sport het ook swaar deurgeloop omdat hulle glo tot dusver nog geen woord gerep het oor Van Schalkwyk se insluiting in die Puma-span nie. Volgens mnr. Cedric Frolick, ANC-LP, het die Van Schalkwyk-kwessie Suid-Afrikaanse sport in ’n slegte lig gestel. “Saru is amper ’n medepligtige en ek stel voor dat die saak verwys word na die (nasionale) minister van sport.” Dié voorstel is deur die komitee aanvaar.
|
||||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|