Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Só gaan Skerpioene vervel, sê Nqakula
Kaapstad. – Die praktiese werking van die regering se nuwe plan vir die Skerpioene se toekoms as deel van die polisiemag is gister onthul. Mnr. Charles Nqakula, minister van veiligheid en sekuriteit, het aan die parlementêre perskorps gesê die staat gaan ’n nuwe spesialiseenheid teen georganiseerde misdaad stig waarvan die huidige Skerpioene grootliks deel gaan vorm. Dit maak deel uit van ’n herorganisasie van die hele strafregstelsel – die polisie, howe en tronke – onder die politieke bevel van mnr. Johnny de Lange, adjunkminister van justisie. Dié nuwe spesialiseenheid sal bekend staan as die direktoraat vir voorkeurmisdaadondersoek (DVMO), met die spesifieke mandaat om georganiseerde misdaad hok te slaan. Ondersoekbeamptes van die Skerpioene en twee polisie-eenhede, te wete die eenheid teen georganiseerde misdaad en die handelsmisdaadeenheid, se kundigheid sal in die DVMO saamgevoeg word. Nqakula het verseker die nuwe eenheid sal genoeg hulpbronne kry om sy werk behoorlik te doen. Die DVMO sal volgens hom nou saamwerk met die batebeslagleggingseenheid, doeane-owerhede en die private sektor. Regslui werksaam in die nuwe DVMO sal sorg dat die eenheid se ondersoeke van die begin af gefokus is om in ’n hof ’n skuldigbevinding te verseker, maar die insameling van inligting sal by die polisie se misdaadintelligensie-eenheid berus. Lede van die DVMO sal streng gekeur word, het Nqakula gesê. Die keuring sal ondervinding, vaardigheid en veiligheidsklaring in ag neem. Die nuwe ANC-leierskorps het die afgelope maande by monde van genl. Siphiwe Nyanda, lid van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK), aangedring op strenger keuring as wat by die Skerpioene die geval was. Een van hul sterkste besware teen die Skerpioene vind neerslag in die bepaling dat die magte van ondersoek (die polisiewerk) en vervolging (die aanklagwerk) geskei word. Die Zuma-kamp in die ANC voer lankal aan die samevloeiing van dié twee in die Skerpioene lei tot magsmisbruik. Nqakula het verseker dat alle huidige Skerpioene-ondersoeke afgehandel sal word; nie een sal verlore gaan nie. Een van die belangrikste aspekte van gister se aankondiging is dat die reëls waarvolgens pleitooreenkomste aangegaan kan word, gewysig sal word. Dit is welbekend dat daar baie kritiek was op die wyse waarop die Skerpioene pleitooreenkomste aangegaan het deur booswigte se vonnisse te verlig of op te skort, in ruil vir inligting wat nie oral as baie betroubaar beskou is nie (komende van booswigte). Hoëprofiel-pleitooreenkomste waaroor die Skerpioene al deurgeloop het, sluit in mnre. Glenn Agliotti (oor sy vriendskap met komm. Jackie Selebi, die nasionale polisiehoof) en Mark Thatcher (oor die staatsgreeppoging enkele jare gelede in Ekwatoriaal-Guinee). Op ’n vraag of Selebi dus, as die nuwe stelsel gegeld het, sy eie ondersoeker sou aanstel, het Nqakula gesê junior polisielede ondersoek gereeld hul seniors. Voorts het Nqakula gesê huidige lede van die Skerpioene sal met volle salarisvoordele na die polisie oorgeplaas word – hulle sal nie minder verdien nie. Op ’n vraag hoe dit verantwoord gaan word siende dat die Skerpioene in die reël beter vergoed word as hul eweknieë in die polisie, het Nqakula gesê dit sal in die tersaaklike wetgewing verfyn word. Die tersaaklike wetgewing is die wetsontwerp op algemene wette, wat al by die parlement ingedien is en teen die einde van die jaar op die wetboek behoort te wees sodat die nuwe eenheid kan funksioneer.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|