Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
‘Dít veroorsaak xenofobie’
Suid-Afrikaners se frustrasie en woede oor die armoede waarin hulle verkeer is die rede waarom hulle die immigrante in hul gemeenskappe aanval. Só het adv. Tseliso Thipanyane, uitvoerende hoof van die Menseregtekommisie (MRK) gister gesê oor die xenofobiese geweld wat die afgelope twee dae in Alexandra, noord van Johannesburg, uitgebreek het. “Ons (die MRK) werk al meer as tien jaar met dié soort geweld in die land. Duidelik werk ons metodes nie meer nie en sal ons weer moet gaan planne maak,” het Thipanyane gesê. Hy het dié opmerkings gemaak ná ’n geslote vergadering gister met verteenwoordigers van die Kommissie vir Geslagsgelykheid, die polisie en plaaslike politieke verteenwoordigers in die Alexandra-polisiestasie. Terwyl die vergadering binne gehou is, het die Suid-Afrikaanse Rooikruis sowat 1 000 mans, vroue en kinders gevoed wat in die parkeerterrein van die polisiestasie skuil uit vrees vir die geweld wat die afgelope twee dae in die township woed. Die meeste van die vlugtelinge op die polisie-perseel was immigrante uit onder meer Zimbabwe, Mosambiek en Malawi, maar die polisie het bevestig dat van dié vlugtelinge ook Suid-Afrikaners is. Sowat 50 mense is al in hegtenis geneem weens openbare geweld, moord, poging tot moord, verkragting en straatroof nadat die xenofobiese geweld Sondagaand in Alexandra uitgebreek het. ’n Oproerige bende val snags die immigrante in hul huise aan. Me. Nannatjie Moepi (25), wat haar as ’n Suid-Afrikaanse burger van Diepsloot voorgestel het, was ook buite die polisiestasie. Sy het die polisie kom vra om haar pa en mansvriend te help om die Alexandra-hostel te ontruim en saam met haar na Diepsloot te gaan. Volgens mnr. Abel Mangolele, uitvoerende hoof van die Alexandra-kliniek, is sowat 58 mense Sondagaand en ’n verdere 95 sedert Maandagaand vir beserings behandel. Eerw. Kenneth Meshoe, leier van die ACDP, het hom gister op kerkleiers beroep om hul volgelinge te oortuig om vreemdelinge met menseliewendheid te behandel. Komm. Perumal Naidoo, Gautengse polisiehoof, het gister gewaarsku die polisie sal nie huiwer om kragdadig op te tree teen die geweldplegers nie. Mnr. Frans Cronjé, hoofbeampte van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge, het gesê immigrante in Suid-Afrika bedreig die openbare orde, juis omdat hulle nie geregistreer is nie en dus kwesbaar is. Mnr. Tiyani Rikhotso, ANC-woordvoerder, het gewaarsku dat “sulke dade rassistiese wonde binne ’n gemeenskap kan oopmaak”. Cosatu het gesê die Johannesburgse stadsraad moet skuilings oopmaak vir mense wat te bang is om na hul huise terug te keer.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|