Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
‘Behandeling kom te laat’
Vereeniging. – Die vrou van dié dorp wie se bene vermink is nadat sy drie jaar gelede deur vermoedelik ’n vioolspinnekop gebyt is, is gister dood. Me. Andrea Joubert (59), wat twee maande gelede wéér in die Vereeniging Medi-Clinic opgeneem is nadat sy derduisende rande bestee het aan behandeling vir ’n vioolspinnekopbyt, is gisteroggend in Vereeniging Care Cure dood ná ’n siekte van drie maande. Die nuus oor haar dood het gekom terwyl welmenende Beeld-lesers se raad oor die behandeling van vioolspinnekopbyte steeds ingestroom het. Joubert is in 2005 onder die lapa by hul huis deur vermoedelik ’n vioolspinnekop gebyt. Die klein rooi letsel, wat eers soos ’n muskietbyt gelyk het, het later ’n wond op haar regterbeen gelaat wat deur die volle dikte van haar vel gedring het. Sy en haar man, Eben (63), het alles moontlik probeer om ’n kuur te vind vir die bytwond, wat maar net al hoe groter bly word het. Die wanhopige egpaar het hulle selfs tot alternatiewe geneeskunde gewend, nadat ’n spesialis onomwonde gesê het dat hy niks vir mev. Joubert kan doen nie en haar toestand steeds agteruit gegaan het. Haar mediese kostes het ongeveer R500 000 beloop, maar niks het gehelp nie. Mnr. Francois Joubert (34) van Randparkrif in Johannesburg, hul seun, het gesê dat dit vir hom moeilik is om te dink dat dokters met die hedendaagse tegnologie en mediese wetenskap nie sy ma betyds kon help nie. Joubert, ’n diabeet, is die afgelope drie maande in die Vereeniging Medi-Clinic behandel en versorg, maar vog op haar longe en ’n vergrote hart het tot verdere komplikasies gelei. Haar linkerbeen is in 2007 deur sekondêre infeksie aangetas. Ten tye van haar dood was albei bene erg vermink. Tydens die drie maande in die hospitaal is die dooie weefsel van Joubert se bene weggesny en is sy met antibiotika behandel. “Die regte behandeling het te laat gekom vir my vrou,” het haar man gister gesê. Volgens hom het dr. GW Anderson, die internis wat sy vrou behandel het, gistermiddag gesê dat Joubert dood is ná die bloedvergiftiging (septisemie) van die spinnekopbyt vererger het en uiteindelik tot nierversaking gelei het. Mnr. Joubert het Beeld-lesers vir hul raad en meelewing bedank, asook die dokters en verpleegpersoneel in saal D van die Vereeniging Medi-Clinic en die verpleegpersoneel van Vereeniging Care Cure, waar sy die laaste twee weke versorg is.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|