Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Cosatu, SAKP boos oor lede in Alex-geweld
Die vakverbond Cosatu en die SAKP het gister teen sy “eie werkers” uitgevaar omdat “hulle deel is van plundery” ná die aanvalle op immigrante in Alexandra, Johannesburg. “As jy honger is, dan steel jy nie iemand se TV of verkrag hul vroue nie,” het dr. Blade Nzimande, sekretaris-generaal van die SAKP, gesê. Tot dusver het drie mense in dié township gesterf, tientalle is beseer, sowat 53 mense is op klagte soos moord, verkragting, roof en openbare geweld in hegtenis geneem en meer as 1 000 immigrante is dakloos gelaat. “Dis ’n verleentheid. Ons eie werkers is deel van dié mense wat meer weerbare mense teister en hul besittings plunder,” het mnr. Zwelinzima Vavi, Cosatu-hoofsek?retaris, gesê. “Soos die onlangse xenofobiese aanvalle in Atteridgeville, die Wes-Kaap en nou Alexandra, moet ons waak teen nóg,” het hy gesê. Hy was ’n gasspreker by die opening van Cosatu se Remember the heroes-uitstalling in Braamfontein. Dié uitstalling gedenk leiers soos mnr. Chris Hani, vermoorde leier van die SAKP. Nzimande meen Alexandra se inwoners moenie kwaad wees vir buitelanders nie, maar vir die regering se swak besluite. “Dis dié besluite wat omsien dat werkers en armes twee keer belas en die rykes agter hul hoë mure onderhou word,” het hy gesê. Die DA het ook vinger gewys na die departement van binnelandse sake wat “daarin misluk om voldoende stelsels vir die registrasie en monitering van buitelanders wat oor die land se grense stroom, in plek te kry”. Me. Sheila Camerer, die DA se parlementêre verteenwoordiger vir Sandton (wat Alexandra insluit), het gevra die weermag se hulp moet ingeroep word om die polisie te ondersteun. “Weerbare mense vlug uit hul huise met al hul besittings na plekke van veiligheid en word dan deur misdadigers geteiken. Dis nóg ’n teken dat die situasie nie deur die polisie alleen onder beheer gebring kan word nie.” Dir. Govindsamy Mariemuthoo, Gautengse polisiewoordvoerder, het gesê die polisie het wel die situasie onder beheer en hulle veg met die nodige geweld terug. ’n Afvaardiging gelei deur mnr. Paul Mashatile, ANC-voorsitter in die provinsie, en ook bestaande uit me. Winnie Madikizela-Mandela, mnr. Patrick Chauke, voorsitter van die portefeuljekomitee vir binnelandse sake, en die LUR vir behuising, me. Nomvula Mokonyane, het die gebied gister besoek. Madikizela-Mandela het aan die immigrante gesê sy is jammer en dat hulle moet weet nie alle Suid-Afrikaners is só nie.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|