Hoeveel het jý gewen?
Kliek hier vir die jongste én vorige Lotto-wennommers en uitbetalings.
Beeld
Olimpiese Spele in Beijing
Die SA span, nuus, agtergrond en ander inligting oor vanjaar se Olimpiese Spele in Beijing, China.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
Vennote


Matrieks gaan hop in eksamen
May 16 2008 08:25:42:720PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Alet Rademeyer

Sommige matriekleerlinge gaan volgens die voorgestelde eindeksamenrooster vir vanjaar drie vraestelle direk ná mekaar moet skryf.

Die onderwysdepartement beveel aan dat leerlinge op 25 November besigheidstudies van 09:00 tot 12:00, elektriese tegnologie van 12:30 tot 15:30 en Engels van 16:00 tot 18:30 moet skryf.

Dit kom neer op drie vraestelle oor nege en ’n half uur met twee pouses van 30 min. elk.

Benewens die feit dat daar vakbotsings is soos meganiese tegnologie en toerisme, besigheidstudies en elektriese tegnologie en musiek en gasvryheidstudies wat op presies dieselfde tyd geskryf word, is die rooster ook só opgestel dat leerlinge die oggend, die middag en dan weer die volgende oggend vraestelle skryf.

Een van die voorbeelde is Donderdag 6 November en Vrydag 7 November wanneer leerlinge Afrikaans, verbruikerstudies en wiskunde ná mekaar skryf.

In ander gevalle skryf hulle die middag, volgende oggend, middag en weer die volgende oggend.

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) het gister in ’n verklaring gesê dat dit nie opvoedkundig verantwoordbaar is om van leerlinge te verwag om vakke so opmekaar te skryf nie.

“Die departement is klaarblyklik nie geneë om aandag aan die probleem te gee nie, aangesien dit slegs ’n klein getal leerlinge beïnvloed en beskou die SAOU se herhaalde oppering van die aangeleentheid as onnodig.”

Mnr. Theo Tholo, lid van die nasionale onderwys- en ontwikkelingskomitee van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou), het gesê dié vakbond is ook nie tevrede met die huidige rooster nie.

Tholo het gesê hulle het in gesprekke met die departement daarop gewys dat dieselfde probleme met verlede jaar se rooster nie herhaal kan word nie.

Volgens Tholo is dit onaanvaarbaar dat van leerlinge verwag word om veeleisende vakke kort ná mekaar te skryf.

Hy het gesê die kwessie sal met die volgende vergadering wéér met die departement opgeneem word.

Prof. Coert Loock, onderwyskundige aan die Universiteit van Johannesburg, het by navraag gesê om van kandidate te verwag om op een dag drie vraestelle te skryf, is te erg.

“Dit sal te uitputtend wees en die brein nie genoeg tyd gee om te rus nie.”

Me. Penny Vinjevold, adjunk-direkteur-generaal van onderwys, het vroeër gesê die eksamenrooster is ná wye konsultasie met onderwysers, nasionale onderwysersunies, provinsiale onderwysdepartemente en skoolhoofde bekendgestel.

Sy het gesê die departement het slegs een reaksie met besware van die SAOU gekry.

Sy het skole genooi om haar in kennis te stel van roosterbotsings.

Die SAOU het gesê ’n hoofdevereniging het ’n klagte ingedien oor skole nie geleentheid gegee is om kommentaar te lewer op die voorgestelde rooster nie.


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |