Beeld
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
Vennote


LP’s kap aanvalle weens xenofobie
May 16 2008 09:51:15:813PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Philda Essop

Kaapstad. – Suid-Afrika se poreuse grense, die krisis in Zimbabwe en die ondoeltreffende funksionering van die departement van binnelandse sake.

Dít is die vernaamste redes wat opposisiepartye gister aangevoer het vir die xenofobiese voorvalle wat vandeesweek in Alexandra en Diepsloot, Johannesburg, uitgebreek het.

’n Spesiale debat oor dié voorvalle wat reeds twee lewens geëis het, is gister in die parlement gehou. Dit is wyd deur LP’s veroordeel.

Mnr. Corné Mulder, VF+- hoofsweep, het gewaarsku die krisis in Zimbabwe is besig om oor sy grense tot in Afrika suid van die Sahara te eskaleer. “Die beleidsmislukking-kierangs van die ANC is besig om uit te braai,” het hy gesê.

Onder dié mislukkings tel Suid-Afrika se beleid van stille diplomasie teenoor Zimbabwe. “Die effek daarvan was dat 3 miljoen Zimbabwiërs uit Mugabe se tiraniese bewind na Suid-Afrika moes vlug. Die feit is dat die krisis in Zimbabwe nou oor die grense van die land spoel en tot in Afrika suid van die Sahara eskaleer . . . dit is die ware rede (vir xenofobiese voorvalle).”

Me. Patricia de Lille, OD-leier, het gesê die Afrika-unie het misluk om skobbejakleiers te hanteer wat oorloë en onstabiliteit in hul lande veroorsaak.

Sulke leiers dryf mense tot wat hulle dink groener weivelde in Suid-Afrika is, net om te vind dat plaaslike inwoners ook sukkel om die basiese benodigdhede te vind wat tot ’n wedywering vir skaars hulpbronne lei. “Ons het strenger beheer oor ons poreuse grense nodig,” het sy gesê.

Me. Mampe Ramotsamai, ANC-LP, het Suid-Afrikaanse werkgewers bygekom wat immigrante teen ’n goedkoper loon as Suid-Afrikaners in diens neem.

Sy het ’n beroep om verdraagsaamheid gedoen en gevra waarom die aanvalle op inwoners van Afrika gerig word wat Suid-Afrikaners tydens die vryheidstryd bygestaan het.

Me. Sheila Camerer, DA-LP, het swak dienslewering geïdentifiseer as ’n rede vir die aanvalle. Om verdere voorvalle te voorkom, moet die regering die ware omvang van die probleem met xenofobie erken en aandag skenk aan die veiligheidsvakuum langs sy grense, het Camerer voorgestel.


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |