Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
'Oorlog' in Gauteng
Minstens 13 mense is dood, van wie twee glo volgens die halssnoermetode, in die xenofobiese geweld wat die naweek gewoed het in die Johannesburgse middestad en regoor die Oos- en Wes-Rand. ’n Verdere 60 mense is na raming in dié voorvalle beseer, terwyl aanvallers selfs nie immigrante wat in die Sentrale Metodistekerk in die middestad geskuil het, ontsien het nie. “Dit is oorlog! ’n Noodtoestand moet verklaar word en die weermag se hulp ingeroep word,” het biskop Paul Verryn van dié kerk gister gepleit nadat bendes gister immigrante hier geteiken het. Altesame 200 mense is volgens dir. Govindsamy Mariemuthoo, polisiewoordvoerder, in hegtenis geneem op aanklagte van onder meer moord, verkragting en openbare geweld. Adv. Tseliso Thipanyane, uitvoerende hoof van die Menseregtekommissie (MRK), het ook gister gesê ingryping van die weermag blyk nou nodig te wees, omdat die xenofobiese geweld soos ’n “ernstige virus” versprei. Sapa berig pres. Thabo Mbeki het ’n paneel saamgestel wat xenofobiese geweld moet ondersoek. “Die polisie moet ferm optree; ons kan nie toelaat dat mense rondgaan en ander aanrand nie,” het Mbeki vroeër gesê. Ook mnr. Jacob Zuma, ANC-president, het gister die geweld sterk veroordeel. Die skietvoorvalle, aanrandings en plundery wat verlede week in Alexandra en Diepsloot begin het, het na Tokoza, Actonville, Mayabuye, Tembisa, Kanana, Kopanong, Klipfontein View, Vusimusi, Mashimong aan die Oos-Rand, Cleveland, Jeppe, Berea in Johannesburg en die Zandspruit-plakkerskamp aan die Wes-Rand versprei. Vyf mense het kort ná middernag gister in Cleveland gesterf, het kapt. Cheryl Engelbrecht van die polisie gesê. Twee mense is lewendig verbrand, terwyl drie glo doodgeslaan is. Sowat 50 mense is in aanvalle op immigrante hier beseer, en met onder meer skiet- en steekwonde in omliggende hospitale opgeneem. Motors is aan die brand gesteek en verskeie winkels is geplunder. In Malvern is immigrante van die Denver-hostel in Julesstraat aangeval. Terwyl die polisie hier die orde probeer herstel het, is plakkershutte in die Zandspruit-plakkerskamp in Honeydew afgebrand en mense met klippe bestook. Insp. Karen Jacobs, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie het hier met rubberkoeëls op oproeriges skiet en Beyers Naudérylaan is deels afgesper. Volgens Verryn het die polisie al eergister gewaarsku hulle kan ’n aanval op dié kerk te wagte wees. Talle Zimbabwiërs, Mosambiekers, Ethiopiërs en Malawiërs skuil in die kerk. Gistermiddag het die spanning hoog geloop nadat immigrante glo buite die kerk aangerand is. Talle het hulself met bakstene bewapen en die ergste gevrees. Verryn het gesê as ’n kerkleier kan hy nie geweld aanmoedig nie, maar dit is moeilik om sy hoë ideale te predik terwyl dit nie sy lewe is wat bedreig word nie. Eergister is twee mans, vermoedelik Suid-Afrikaners, in afsonderlike voorvalle in die Mandela-plakkerskamp in Katlehong doodgeskiet. Dit is nog nie duidelik of dié moorde met xenofobiese geweld verbind word nie. Die atmosfeer in Alexandra was die naweek steeds gespanne. Volgens konst. Neria Malefetse, polisiewoordvoerder, moes die polisie ’n oproerige massa met rubberkoeëls verdryf. ’n Vermoorde Suid-Afrikaner se liggaam is ook hier gevind. Vier lyke is in Primrose aan die Oos-Rand gevind, van wie twee Suid-Afrikaners en twee immigrante was. In Tembisa het ’n man tydens xenofobiese geweld gesterf, twee ander is beseer en sowat 17 hutte is afgebrand. Dir. Govindsamy Mariemu-thoo, polisiewoordvoerder, het gisteraand teen druktyd gesê as geweld vanoggend weer in die middestad uitbreek, sal pendelaars ingelig word oor watter roetes hulle moet vermy.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|