Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
‘SA moenie dié reputasie kry’
Mnr. Jacob Zuma, ANC-leier, het gister gerugte dat mense wat xenofobiese geweld pleeg, die bekende lied “Awuleth’ umshini wami” (“Bring my masjiengeweer”) sing, ten sterkste afgekeur. “Dit is ’n ernstige kwessie, want dié mense misbruik ’n ANC-lied en wil daarmee insinueer dat dit die ANC-mense is wat dié misdade pleeg,” het Zuma op ’n ANC-imbizo in Mamelodi, in die ooste van Pretoria, gesê. Hy het kwaai uitgevaar oor die “behandeling wat immigrante kry” en gepleit dat gemeenskappe nie moet toelaat dat Suid-Afrika ’n reputasie as ’n land van xenofobiese geweld kry nie. Xenofobiese geweld het gisteroggend verder in Gauteng versprei sedert dit verlede Sondag in Alexandra begin het. Zuma het gesê dit lyk of Suid-Afrikaners vergeet het watter ondersteuning ANC-lede van “ons broers en susters in Afrika” gekry het gedurende die vryheidstryd. “Hoe kan ons nou daardie broers en susters aanval net omdat hulle van ’n ander land is? Dit is juis Afrika-lande wat ons gehuisves en ondersteun het toe die apartheidsregime hulle gevra het om dit nie te doen nie.” Die ANC-president het terselfdertyd die polisie gewaarsku: “Ek het die laaste ruk verneem dat mense wat hulle glo aan xenofobiese geweld skuldig maak, aan die polisie uitgewys is, maar dat daar nie teen hulle opgetree is nie. “Dít is ’n baie ernstige aantyging en ek sal dit persoonlik met die polisie opneem.” Hy het die meer as 5 000 ondersteuners aangemoedig om aktiewe straatkomiteestelsels te vestig. Zuma het in Desember op die ANC-konferensie in Polo?kwane ANC-lede aangemoedig om persoonlik deur middel van straatkomitees misdaad te beveg. “Raak betrokke, want niemand gaan misdaad namens jou beveg nie. Vestig straatkomitees sodat julle weet wat in elke straat aangaan.” Hy het ook weer sy twyfel uitgespreek of die land se regstelsel genoeg tande het om misdaad te beveg en meen die stelsel het “te gebruikersvriendelik geword vir misdadigers”. “As iemand nou hier voor ons ’n ander mens doodskiet, is hy net ’n verdagte wat na bewering moord gepleeg het. “Daar word dan onmiddellik op die moordenaar se menseregte gefokus, terwyl die slagoffer s’n vergeet word. “Ek het ’n groot probleem daarmee,” het hy onder toejuiging gesê. “Iemand wat ’n ander mens se lewe neem, moenie die reg hê om sommer net vrygelaat te word om sy of haar lewe te geniet nie.” Hy sê daar kan nie langer ontken word dat misdaad ’n probleem is nie. “Oral in die wêreld is mense bewus van die misdaad-probleem in ons land.”
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|