Beeld
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
Vennote


Genade is ’n bondeltjie katliefde vir dié pasiënte
Jul 03 2008 10:37:42:330PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
'n Bejaarde pasiënt van die Weskoppies- psigiatriese hospitaal speel met 'n rondloperkat wat op die hospitaal se terrein bly. Pasiënte by dié hospitaal put terapeutiese waarde uit hul kontak met dié straatkatte en het nou al name vir hul 'eie' katte vir wie hulle self sorg. Foto: Herman Verwey
Nikita Geldenhuys


Vir sommige pasiënte by die Weskoppies- psigiatriese hospitaal in Pretoria is die rondloperkatte daar hul enigste familie.

Só het me. Anneke Brits, eienaar van Catpals, gister tydens ’n besoek aan dié inrigting gesê.

CatPals is ’n niewinsgewende liefdadigheidsorganisasie wat vir hawelose katte sorg.

CatPals en die Weskoppies-hospitaalbestuur het agt jaar gelede begin saamwerk om die rondloperkatte op die hospitaal se terrein te versorg.

Dít nadat dié hawelose katte se toestand van die pasiënte begin ontstel het.

“Veral een pasiënt het die katte so jammer gekry dat sy van haar kos vir hulle begin bring het,” het me. Antoinette Potgieter, verpleegbestuurder by die hospitaal, gesê.

CatPals het voorgestel dat die hospitaal die katte begin voer. Die hospitaal het ook van die katte gesteriliseer om hul getalle te beheer.

“Pasiënte het daarna self begin om die katte te voer,” het Brits gesê.

Volgens haar word al die katte nou daagliks gevoer.

“Om die katte te voer is sommige van die pasiënte se enigste rede om in die oggend op te staan,” het sy gesê.

Volgens Estelle du Preez, ’n maatskaplike werker by die inrigting, is kontak met die katte vir baie pasiënte soos terapie.

“Wanneer pasiënte lank in ’n hospitaal soos dié is, begin hulle hulle onttrek. Hulle verloor ook energie. Die katte bring dit terug,” het sy gesê.

“Die wonderlike ding is dat diere onvoorwaardelike liefde kan verskaf.”

Die katte, hoewel nie mak nie, is skoon en versorg.

Wanneer hulle siek word, word hulle ook dadelik na ’n veearts geneem.

Die katte word in sekere lokale en selfs in die kamers van pasiënte toegelaat.

“Tiertjie hou elke aand my voete lekker warm,” het ’n 75-jarige vroulike pasiënt vertel oor die kat wat elke aand by haar slaap.

Die katte blyk ook geen gevaar vir pasiënte in te hou nie.

“Skippie is baie gehoorsaam,” het nog ’n pasiënt vertel. “Sy sal heeldag hier in my kamer lê en slaap.

“In die nag bly sy egter wakker; dan pas sy my op.”

Die pasiënt het ook verduidelik dat sy die kat Skippie genoem het omdat “sy in die reën na my toe gekom het”.


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |