Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Hlophe wil verhoor keer
pdebruir@beeld.com Regter-president John Hlophe van Kaapstad het gister in ’n verrassende wending ’n aansoek by die Randse hooggeregshof ingedien waarin hy vra dat die Regterlike Dienskommissie (RDK) verbied word om met ’n ondersoek teen hom voort te gaan. Die hofstukke is reeds gister deur die griffier van die hof uitgereik en op die RDK bestel. Al die kommissarisse van die RDK het reeds afskrifte daarvan ontvang. Die inhoud van die hofstukke is teen laat gisteraand in ’n sluier van geheimhouding gehul en Beeld verneem dat selfs die lêer in die griffierskantoor gister leeg was. Beeld het egter uit ’n betroubare bron na aan die RDK verneem dat die aanhoor van Hlophe se aansoek vir 7 Augustus op die hooggeregshof se rol geplaas is. Die rede waarom Hlophe vra dat die RDK verbied moet word om met die aanhoor van mondelinge getuienis teen hom voort te gaan, is omdat hy meen die klagte teen hom, wat deur die volle regbank van die konstitusionele hof ingedien is, “openbaar geen klagte nie” en dat daar dus geen rede is waarom hy deur die RDK verhoor moet word nie. Dit is ’n erkende beginsel in die reg dat ’n party tot ’n geding die hof kan vra om hofverrigtinge te staak omdat die ander party se stukke geen skuldoorsaak openbaar nie. Dié ontwikkeling in die Hlophe-sage volg nadat Hlophe en die regters van die konstitusionele hof sedert Mei oor-en-weer klagte teen mekaar by die RDK ingedien het. Die regters beweer dat Hlophe twee van die hof se regters “onbehoorlik probeer beïnvloed” het in ’n tans nog ongelewerde uitspraak van die hof in verband met beslagleggings op dokumente van mnr. Jacob Zuma, ANC-president. Die dokumente gaan ’n groot rol speel in Zuma se vervolging later op aanklagte van onder meer bedrog en korrupsie. Hlophe het op sy beurt ’n klag teen die regters ingedien – veral gemik op hoofregter Pius Langa en sy adjunk, regter Dikgang Moseneke – dat hulle hul aan “growwe wangedrag” skuldig gemaak het deur die klag teen hom openbaar te maak. Die RDK het besluit dat mondelinge getuienis aangehoor moet word. ’n Datum daarvoor is nog nie vasgestel nie. Gister het appèlregter Craig Howie, waarnemende voorsitter van die RDK, bevestig dat Hlophe se interdikdokumente aan die RDK besorg is. Hy wou geen nader kommentaar lewer nie. Die selfoon van mnr. Lister Nuku, Hlophe se regsverteenwoordiger van Kaapstad, was teen druktyd nog afgeskakel. Prof. Marinus Wiechers, oudhoogleraar in die reg aan Unisa en grondwetkenner, het gister in reaksie gesê Hlophe “is besig om vis te vang op droë grond”. “Die aansoek wat hy indien, is eerstens heeltemal voortydig. Tweedens tree die RDK streng volgens die vereistes van die Grondwet op. Derdens lyk dit vir my of die enigste werklike doel van so ’n aansoek is om die RDK in ’n slegte lig te probeer stel.”
|
|||||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|