Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Sangeres op N1 oorval ná pap wiel
‘Ons het net hardop gebid.” So sê die sangeres Elizma Theron – wat begin volgende jaar as Kriek in die kykNET-sepie Villa Rosa te sien is – oor die noue ontkoming wat sy en twee vriende eergisternag gehad het. Theron, Ampie du Preez, ’n kitaarspeler en sanger van die groep ’n Man soos Jan, en Yolanda Barnard, vermaaklikheidsjoernalis van die koerant Sondag, is tussen 00:00 en 01:00 op die N1-suid in die omgewing van die Rigel-afrit deur twee gewapende mans aangehou en beroof. Me. Gizela Arndt, publisiteitsbeampte van Villa Rosa, het gesê die drie was op pad terug van ’n optrede van ’n Man soos Jan in Pretoria. Die groep tree elke Woensdagaand in die News Café in Menlyn op. Barnard het in haar eie motor gery, terwyl Theron en Du Preez saam in een motor gery het. Volgens Arndt het Barnard – wat voor die ander twee uit Pretoria weg is – ’n pap wiel gekry en die ander twee gebel om haar te kom help. “Hulle het na haar toe gery. Terwyl Du Preez die wiel omgeruil het, het twee gewapende mans uit die bosse gespring.” Arndt sê toe die mans uitspring, het Theron vir Barnard gegryp, om die motor gehardloop en gaan sit. Terwyl die twee eenkant gesit het, het die mans Du Preez beveel om almal se besittings te oorhandig. Toe een man besef dat Theron vir hulle kyk, het hy ’n vuurwapen teen haar kop gedruk. Die mans het voortdurend skootrekenaars gevra en gedreig om hulle dood te maak. Daar was geen skootrekenaars nie, maar die mans het onder meer met twee GPS’e, twee handsakke en selfone gevlug. Al drie is ongedeerd. Hulle het almal saam in een motor na die naaste polisiestasie gery en die polisie ontbied. Die polisie het hulle na Barnard se motor vergesel, waar verklarings afgelê is. “Ek en Yolanda het net heeltyd hardop gebid. Dit is net genade van Bo dat ons niks oorgekom het nie,” het Theron gesê. Haar raad aan mense wat hulle dalk in ’n soortgelyke situasie mag bevind, is “bly kalm en doen wat hulle vra”. Theron is vol lof vir die polisie. Du Preez sê hy het geskrik, maar “dadelik besef wat aan die gebeur is”. “Ek het besef die beste ding is om kalm te bly en nie na iets te gryp nie. Ek het my hande bly hou waar hulle dit kan sien.” Arndt sê die Villa Rosa-tonele waarin Theron betrokke is, is rondgeskuif sodat sy gister kon afkry. Die uitsaaiskedule word nie geraak nie.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|