Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Man skiet glo buurvrou uit jaloesie
Enkele meters vanaf die kissie waarop me. Anna-Marie O'Halloran (41) langs die tuinmuur gestaan het toe sy doodgeskiet is, swaai haar ligblou nagjapon nog in die wind aan 'n wasgoeddraad. O'Halloran is Woensdagaand vermoedelik deur haar buurman (52) op Reddersburg vermoor. Hy het haar na bewering een keer met 'n 7.65 mm-pistool in die nek geskiet en toe sy eie lewe probeer neem. Hy het homself in die ken gewond. Die twee het dikwels oor die muur tussen die twee erwe gesels. O'Halloran sou dan op dié kissie staan. Haar lyk is neffens die kissie gevind. Polisielede het op die beseerde buurman in sy erf afgekom. Die vermoede bestaan dat jaloesie die motief kon wees. Op dié Vrystaatse dorp het dit gister nog oor die skoknuus van die moord gegons. By O'Halloran se ma, mev. Rina Pretorius, se huis het geskokte familielede en vriende bymekaargekom en mekaar getroos. Haar huis is naby dié van haar dogter. "Ek kan dit steeds nie glo nie. 'n Mens kan nie die gevoel beskryf nie," het 'n hartseer Pretorius gister gesê. "Hy (die buurman) het nog Maandagoggend hier by my huis verfwerk gedoen. Hy is dan so 'n sagte mens." Die man is op die dorp as 'n elektrisiën en algemene nutsman bekend. "Sy wou nie met hom 'n verhouding gehad het nie. Dit moet wees hoekom hy dit gedoen het," het Pretorius gesê. Sy het ook vroeëre bewerings van 'n liefdesdriehoek as onsin afgemaak. O'Halloran het saam met haar dogter Chandré (13) en seun, Malcolm (10), in die huis gewoon. Haar ander dogter, Chantal (20), woon in Bloemfontein en studeer aan die Universiteit van die Vrystaat (UV). Toe sy Woensdagaand die nuus hoor, het sy dadelik na haar ouma se huis gery. "Sy was áltyd bereid om ander mense te help," het sy in trane van haar vermoorde ma gesê. Insp. Lente Coetzee, hoof van misdaadintelligensie by die plaaslike polisiekantoor, sê O'Halloran het agt jaar lank as klerk by dié kantoor gewerk. O'Halloran is ongeveer drie jaar gelede van haar man geskei. Die 52-jarige buurman se vrou is reeds jare gelede aan kanker dood. Hy is Woensdagaand ná die voorval na die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein gebring waar hy vir die skietwond aan sy ken behandel word.
Volgens insp. Tseko Mokgahle, polisiewoordvoerder, sal 'n hofdatum vasgestel word sodra hy uit die hospitaal ontslaan word. Hy sal van moord aangekla word.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|